Innoverende versorgingstegniek in die kollig

0
746

MARINÉ JACOBS

‘n Relatiewe nuwe metode om vir jou babatjie te sorg gedurende sy eerste paar weke is in die kollig. Kangaroo Mother Care (KMC) is ‘n metode waar vel-op-vel aanraking tussen ‘n moeder en haar baba gebruik word om meer gemak vir die baba en ‘n moederlike-gevoel by die ma te verseker.

KMC is vir die eerste keer deur dr. Edgar Rey in 1978 bekendgestel. Wêreldwye studies het getoon dat die KMC-metode ‘n pasgebore baba se harklop reguleer, omdat sy ma se vel en reuk vir hom bekend is en hom laat veilig voel. Dit is ook die begin van ‘n band wat tussen ma en kind gevorm word, asook die begin van baba se sosiale- en emosionele ontwikkeling. Deur die baba van die ma te verwyder, veroorsaak stres wat die baba se hartklop en bloeddruk verhoog en suurstof-inname verminder.

Dr. Nils Bergman, ‘n Suid-Afrikaanse geneesheer wat in KMC spesialiseer, sê dat die baba deur hierdie metode warmte, beskerming en kos kry sodat die brein optimaal kan ontwikkel. "Deur nie jou baba genoeg te voer nie of hom alleen te laat slaap na hy gevoed het, kan daartoe lei dat die baba koliek ontwikkel. Die moeder se vel is die baba se natuurlike omgewing, en beide die fisies en emosioneel gesondste plek om te wees," sê Bergman.

Die Vrystaatse gesondheidsdepartement het in April 2012 die KMC-beginsel aan nooddienswerkers in die provinsie geleer. Die werkswinkel was só gewild, dat ‘n tweede een hierdie week gehou is. ‘n Neonatale verpleegspesialis, Vanessa Booysen, sê sy kan nie genoeg klem plaas op die natuurlike genesing wat direkte aanraking en borsvoeding aan babas bied nie. "Om ‘n kind van sy ma af weg te neem na geboorte, is die mees onmenslike ding denkbaar om te doen. Al het ‘n baba dringende mediese behandeling nodig weens sy premature aard, is dit werklik die beste opsie om die kind so na as moontlik aan die moeder te hou."

Die nasionale gesondheidsdepartement het reeds beveel dat die KMC-beginsel in alle staatshospitale landswyd aangewend word. " ‘n Broeikas is soos ‘n doodskis vir jou kind. Dit kan nóóit vir enige baba goed wees om weg van sy ma af te wees nie. Medies én natuurlik gesproke is dit werklik die beste oplossing," sê Booysen.

Besoek www.kangaroomothercare.com vir meer besonderhede oor hierdie revolusionêre tegniek.