Innie Skuur sluit sy deure

0
1331
Innie Skuur is al vir sowat ses jaar een van Bloemfontein se gewildste teaters. FOTO: FACEBOOK

Na 13 Augustus vanjaar sak die gordyn finaal oor een van die gewildste kuierplekke in die Rosestad.
Madeleine Coetsee, een van die eienaars van die gewilde Innie Skuur, het aangekondig dat die teater vanjaar sy deure gaan toemaak.
Coetsee sê, ná sowat ses jaar se reis met vriende van Innie Skuur, kunstenaars, helpers en familie, het die teater gegroei tot een van die gewildste plekke in Bloem.
Besoekers het die teater geniet en elke vertoning se kaartjies was feitlik elke keer uitverkoop. Kunstenaars het ook keer op keer teruggekeer na dié teater.
“Die sukses van Innie Skuur is bepaal deur die deursigtigheid, eerlikheid en lojaliteit waarmee dit bedryf is. Dit was baie moeilik om na maande se gebed, gewik en geweeg (en geworstel), tot hierdie besluit te kom. Die lewe is ‘n reis en hoe lank ons pad op hierdie reis is, weet ons nie,” het Coetsee gesê.
Sy het ook vertel dat die mense en ervarings wat hulle op hul reis teëgekom het, meestal onbeplan was, en dat dié mense en ervaring jou leer hoe om die pad te stap, of hoe om dit liefs nie te stap nie.
“Innie Skuur het met baie harde werk, hulp van familie, geloof en in afhanklikheid van die Hemelse Vader, baie vinnig almal se verwagtinge oortref. Ons was bevoorreg om van die land se topmusikante hier te hoor en natuurlik baie van hulle te ontmoet. Juis om hierdie rede was dit ‘n baie moeilike besluit, maar ‘n nodige een.
“Ons is almal net op geleende tyd op hierdie aarde geplaas, daarom is ons dit aan onsself en ons naastes verskuldig om mooi om te sien na ons siele, om te doen en te leef op so manier dat dit ons nader bring aan ons Skepper. Vandaar die besluit om halt te roep en ‘n breek te vat.”
Vir nou kan vriende van Innie Skuur en besoekers nog uitsien na lekker vertonings tot en met 13 Augustus. Kunstenaars soos Jo Black, Andriëtte en Steve Hofmeyr gaan nog kom kuier.
En na dié vertonings? “Wel, die tyd alleen sal leer,” sê Coetsee. – Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za