Vitiligo is ‘n velsiekte waaraan tot 2% van die wêreldbevolking ly, dit is meer as 100 miljoen mense. Dit word gekenmerk deur areas van die vel waar die pigment verdwyn en wit kolle verskyn. Die presiese oorsaak van vitiligo is nog onbekend maar genetiese oorerwing speel ‘n rol om ‘n individu meer vatbaar te maak vir die siekte. Een moontlikheid is dat ‘n persoon se eie immuunstelsel die selle wat die pigment van die vel vervaardig, vernietig in ‘n spesifieke area. Die wit kolle verskyn dikwels op die hande en in die gesig. Vitiligo is glad nie aansteeklik nie, maar weens ‘n gebrek aan kennis, word mense wat aan vitiligo ly dikwels met agterdog bejeën en selfs vermy. Dit kan daartoe aanleiding gee dat vitiligo-lyers sosiaal geïsoleerd voel en depressief kan raak. Hoewel die siekte nog nie geneesbaar is nie, is daar behandeling beskikbaar wat die veltoestand kan verbeter. Suid-Afrika het sy eie Vitiligo Vereniging met ‘n webtuiste www.vitiligosociety.co.za waar inligting oor vitiligo verkry kan word.
Daar sal in Bloemfontein, net soos in die ander groot sentra in Suid-Afrika, ‘n inligtingsessie oor Vitiligo gehou word ter ondersteuning van Vitiligo-lyers in die gees van Wêreld Vitiligo Dag. Dit sal plaasvind op Woensdag, 2 Julie 2014 om 18:00 in die opleidingslokale op die 6de vloer van Mediclinic Bloemfontein. Bevestig asseblief u teenwoordgheid by Mia Greyling by 051- 404 6251
Date: