‘Inkleurkoningin’ het jou hulp nodig

0
439
Johanna Kearney (50), die 'inkleurkoningin' van Jean Webber, besig met haar gunsteling-stokperdjie. FOTO: PIETER DELPORT

Johanna Kearney (50) is bekend as die inkleurkoningin van die Jean Webber-tehuis vir mense met gestremdhede in Parkweg, Bloemfontein. Maar die afgelope paar maande was haar lewe maar bra vaal.
En die rede daarvoor? Haar battery-aangedrewe rolstoel, wat sy sowat twee jaar gelede as geskenk van ‘n mede-inwoner gekry het, se battery is kapoet, en sy het nie geld om dit te vervang nie. Kearney, wat die afgelope 14 jaar ‘n inwoner van Jean Webber is, ly aan serebrale verlamming en is gestrand sonder haar rolstoel.
“Noudat my rolstoel se battery klaar is, kan ek nie meer so maklik rondbeweeg nie. Ek moet gedurig iemand vra om my rond te stoot. Ek hou nie van stilsit nie en wil graag by mense uitkom, omdat ek baie lief is vir my medemens. Maar sonder ‘n werkende battery kan ek nêrens heen nie,” sê Kearney.

Johanna Kearney (50, regs), die “inkleurkoningin van Jean Webber-tehuis, saam met Marinda Kruger, bedryfsbestuurder van Jean Webber. FOTO: PIETER DELPORT

Die feit dat sy nie meer so gemaklik rond kan beweeg nie, gee haar darem meer tyd vir haar gunsteling-stokperdjie, naamlik inkleurboeke. Met Bloemfontein Courant se besoek aan die Jean Webber-tehuis, was Kearney besig met ‘n sak vol inkleurboeke waaraan sy gelyktydig werk.
Marinda Kruger, bedryfsbestuurder van Jean Webber, sê Kearney het ‘n slag met inkleurpotlode, vandaar haar titel as ‘inkleurkoningin’.
“Johanna (Kearney) is nie net uitstekend met die inkleurpotlode nie, maar is baie gewild onder die inwoners sowel as besoekers. Sy kom baie goed oor die weg met almal en is lief vir mense. Die feit dat sy nie meer so gemaklik kan rondbeweeg nie, demp duidelik haar gees,” vertel Kruger.
Sy sê sy kan nog goed onthou hoe Kearney uit pure opgewondenheid soos ‘n wafferse Michael Schumacher op Jean Webber se terrein rondgejaag het toe sy die eerste keer haar rolstoel gekry het.
Volgens Kruger kry inwoners van Jean Webber redelik maklik hul rolstoele geskenk, maar dis die instandhouding wat duur is, en inwoners of hul familie kan dit selde bekostig. Om Kearney se battery te vervang kos byvoorbeeld by die R3 500.
Ds. Deon Potgieter, leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk, Heidedal-Suid, ‘n jarelange vriend van Jean Webber, het onderneem om met die publiek se hulp geld in te samel om vir Kearney ‘n nuwe battery aan te skaf.
Bel gerus vir Potgieter by 083-599-7145 u ‘n bydrae wil maak. Dit sal ongetwyfeld help om die kleur terug te sit in die oë van Jean Webber se ‘inkleurkoningin’. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za