Ingenieursgraad by UV skop toe nié af nie

0
564

LANI FOUCHÉ

‘n Beplande ingenieursgraad, wat ‘n eerste vir die Universiteit van die Vrystaat in 2013 sou wees, gaan nou eers heelwat later realiseer.

Woordvoerder vir die UV, Lacea Loader, het bevestig dat ‘n beplande B.Sc graad in Ingenieurswetenskappe nie vanjaar afgeskop het soos wat verlede jaar aangekondig is nie.

“Daar sal wel in die toekoms ‘n graad in Landbou-ingenieurswese aangebied word. Weens die omvang van die prosesse om ‘n gespesialiseerde kwalifikasie soos hierdie aan te bied, sal meer inligting weer daaroor bekendgemaak word sodra die projek in ‘n gevorderde stadium is.”

Die UV het verlede jaar bekendgemaak dat dié graad uniek-gekwalifiseerde Ingenieurswetenskaplikes sou oplewer, met die opsie om verder te swot vir ‘n volledige Ingenieursgraad.

Bemarkingshoof van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, Elfrieda Lötter, het gesê 20 studente sou hiervoor in 2013 aanvaar word. Die toelatingsvereistes hiervoor sou minstens 80% vir Wiskunde en 70% vir Fisiese Wetenskappe in matriek wees, asook ‘n TP-telling van 34.

Die UV het verskeie jare gelede ‘n Ingenieursfakulteit gehad, maar sy deure het toegemaak. Die vakbond UASA het vroeër gesê ‘n groot tekort aan ingenieurs knou ontwikkeling in die land.