Inflasie verras ekonome

0
Inflasie verras ekonome

Horrace Terry

Verlede week het ons gesien hoe inflasie vir Januarie-maand op 5.4% jaar-op-jaar te staan gekom het, en dis heelwat laer as die algemene markverwagting van 5.7%.  Dié syfer het die meeste ekonome en ontleders verras, en dit was ook die eerste inflasiesyfer wat basseer is op ’n aangepaste inflasiemandjie van dienste en goedere.  Die inflasiemandjie is in 2009 deeglik aangepas om Suid-Afrika in lyn te bring met internasionale standaarde, en ook om veranderende verbruikerspatrone in ag te neem. Gevolglik word ’n meer realistiese inflasie prentjie verkry.

Statistieke SA se inflasiekoersberekeninge is egter ’n baie wye peiling, en dit poog om die algemene stygings in lewenskoste in die wye samelewing te meet. Dis amper soos om met ’n haelgeweer in ’n swerm vlieënde voëls in te skiet – jy weet jy gaan ’n paar raak skiet. As jy egter gaan probeer om ’n enkele vlieënde voëltjie met ’n 303 raak te skiet, gaan jy amper verseker mis skiet.
Wanneer dit by beleggingsbeplanning kom, is dit egter die “enkele voëltjie” se behoeftes wat bepaal moet word. Meeste lesers ervaar egter nie inflasie van 5.4% nie, maar waarskynlik nader aan 9%-11%, of selfs meer. Dit is vir hierdie persoonlike inflasiekoers wat daar dus beplan en voorsien moet word. Dit help nie jy kry opbrengste van 9% per jaar, en jy presteer Statistieke SA se inflasiekoers gemaklik uit nie, terwyl jou persoonlike lewenskostes met 11% per jaar toeneem nie, jy word steeds armer. Terug by die nuwe inflasiemandjie, hier is van die veranderinge wat aangebring is.

Die gewig van elektrisiteit is op van 1.7% na 4.1%, die gewig van siekefondspremies is op van 3.7% na 7.9% en huishuur se gewig is op van 3.5% na 4.8%. Motorvoertuie se gewig is af van 11.3% na 6% en tabakprodukte is af van 2.3% na 1.5%. Die meeste van die toenames in gewigte is meegebring deur die opkomende swart middelklas. Die gevolglike toename dus ook in koopkrag deur die swart middelklas het veroorsaak dat daar ’n paar nuwe items tot die inflasiemandjie toegevoeg is soos drinkbare sjokolade, filter koffie, feta-kaas, mineraal water, vakansiepakette, dienste van elektrisiëns/loodgieters, energiebesparende gloeilampe, haarverlengings en sportskoene. In totaliteit beslaan die inflasiemandjie 393 uit verskillende produkte en dienste.

No posts to display