Inbrekers wil jou huis binnekom- mag jy skiet?

0
2034

Christopher Motabogi

“Beskerming deur sekuriteit is ‘n tweerigtingstraat. ‘n Verbruiker kan nie net verwag om maandeliks te betaal en aanvaar sy sekuriteitsfirma gaan hom totaal en al kan beskerm nie. Daar moet ‘n goeie werksverhouding wees tussen die sekuriteitsmaatskappy en die eindverbruiker.” So het Johan Krogh, nasionale voorsitter van die South African Intruder Detection Services’ Association (Saidsa), vandeesweek gewaarsku. Dit terwyl inwoners, veral in KwaZulu-Natal, onder ‘n vlaag inbrake deurgeloop het. In die ergste gevalle landwyd is huiseinaars in ander provinsies in hulle huise met messe, pangas en byle aangeval.
Saidsa verteenwoordig sowat 300 wettige sekuriteitsmaatskappy landwyd. Dit help om sekere standaarde vir beheerkamers en reaksiedienste daar te stel en dien ook as ‘n waghond vir die sekuriteitsbedryf.

Krogh sê dat die neiging vandag is om buitebeskermingstoerusting te installeer ten einde die indringer op te spoor en alarm te maak by jou sekuriteitsfirma voordat hy fisies in jou huis is. “Die grootse probleem is, mense raak gewoond aan ‘n situasie. Hulle los hulle sekuriteitshekke oop, daar’s nie genoegsame beligting nie, daar’s struike en bosse wat byvoorbeeld die voordeur en vensters verbloem en dit is vir die inbreker die ideale situasie, hy ‘smag’ behoorlik daarna. Dit is dinge waarteen die verbruiker moet waak” het Krogh gesê. Intussen, sê Vrystaat-polisie, gee die teenwoordigheid van ’n inbreker in ’n mens se huis nie die eienaar, wat dalk ’n vuurwapen het, die reg om die indringer te skiet nie.

“Jy kan hom ’n waarskuwing gee. Sou die persoon in daardie stadium besluit om die poging te laat vaar en weg te hardloop, is dit goed so. Maar as die person voortgaan met die inbraak, jou nader en jou of enige van jou familie of ‘n werknemer in jou huis skade of wat ook al aandoen, mag jy die nodige vuurwapen gebruik om julle lewens te beskerm,” sê polisiewoordvoerder Harry Nagel.
Nagel het ook gewaasku teen boere wat soms hulle vuurwapens onwettig aan hulle vrouens gee om hulself in die boere se afwesigheid te beskerm. “Dit mag glad nie gedoen word nie, want dan is die vrou onwettig in besit van ’n vuurwapen waarvoor sy nie ’n lisensie het nie. Wat hulle wel kan doen, is om albei aansoek te doen om ’n lisensie vir een vuurwapen. Dit sal daardie probleem uitskakel en geen probleem vir ons wees nie,” sê Nagel.

Intussen toon die jongste syfers van die Verenigde Nasies dat Suid-Afrika die tweede hoogste vuurwapenverwante sterftes het. Syfers van Gun Free SA, wat teen vuurwapens gekant is, toon dat 12 uit elke 100 persone in ons land ’n vuurwapen(s) besit; iets wat die korrekte hantering daarvan noodsaklik maak.  Dieselfde organisasie beweer dat veral vroue waarskynlik drie keer meer kan sterf wanneer daar ’n vuruwapen in die huis is.