Iets vir almal by The Social Food Club

0
992
Machiel Bekker, Petri Coertzen en Jamandi Bekker, die eienaars van die Social Food Club. FOTO: ESTEE VAN DER WALT

Inwoners van Bloemfontein met ‘n voorliefde vir goeie koffie en kos, kan uitsien na die nuwe ‘baba’ van die LekkerBekkers van My Kitchen Rules-faam, wat eersdaags open. Of dit nou vir ‘n vinnige koppie koffie, een van die bekende kospaar se eksotiese geregte, òf ‘n lekker kuier saam met vriende of kollegas is, The Social Food Club, is die plek vir jou.

Die dinamiese duo, Jamandi en Machiel Bekker, het saamgespan met bekende plaaslike binnenshuise versierder en mede-eienaar van die gewilde Mystic Boer, Petri Coertzen, en besluit om eksklusiewe café, soos Jamandie dit noem, waar ‘n verskeidenheid geregte, koffie en alkoholiese drankies aangebied word, oop te maak.

The Social Food Club gaan kos bedien van die LekkerBekkers, wat My Kitchen Rules gewen het. FOTO: ESTEE VAN DER WALT

Die LekkerBekkers het die eerste seisoen van die M-Net, My Kitchen Rules-program gewen en sedertdien is daar ‘n aanvraag na hul hoog aangeskrewe geregte. Dit was een van die hoofredes waarom hierdie café ‘n realiteit geword het. Die plek is ideaal vir enige seisoen aangesien dit ‘n intieme atmosfeer bied vir die winter en met ‘n oop binnehof spog vir die somer. “Hierdie knus stukkie hemel op aarde moet mense se eerste stop in die oggend wees vir ‘n vinnige koppie koffie om aan die gang te kom vir die dag, en dan later vir ‘n lekker ontbyt of middagete om vriende of sakekennisse te ontmoet,” sê Jamandie.
Sy vertel dat sy uiters opgewonde is om saam met Coertzen te werk, omdat een van laasgenoemde se spesialiteite is om ‘n wonderlike atmosfeer te skep. Die spyskaart by die café sal ook elke twee weke verander, met verskillende spesiale geregte van die LekkerBekkers.

” Vir eers sal ons net gedurende die dag op wees, tot so 17:00 en ‘n verskeidenheid koffie aanbied, spesiale ontbyt, wengeregte en ook die plekkie uitverhuur vir private gesellighede soos partjies en besigheidsvergaderings,” verduidelik Coertzen.

Sedert Jamandi en Michaiel die My Kitchen Rules-kompetisie gewen het, het hulle gewag vir die perfekte geleentheid om hul kreatiewe talente met die res van die land te deel. By die Social Food Club sal daar iets spesiaals wees vir almal – van koffie tot gin – en vele ervarings van reg oor die wêreld vir plaaslike inwoners.

The Social Food Club het ‘n Instagram-rekening waar lesers kan gaan “like” en “share”om twee uitnodigings na die koöperatiewe bekendstelling van die kafee, wat op 1 Augustus plaasvind, te wen.

The Social Food Club se deure sal van 5 Augustus af in Bloemfontein oop wees, en mense kan uitsien na ‘n unieke, lewendige en weer kom-café, bistro en bar. Die café is geleë in James Scottstraat 9.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za