‘Iceman’ slaggereed om vir die Knights te speel

0
328
Ferisco Adams (links) in aksie vir die Cape Cobras. Dié veelsydige speler is slaggereed vir die nuwe hoofstuk van sy loopbaan by die VKB Knights. FOTO: RYAN WILKISKY/ BACKPAGEPIX

Die 30-jarige veelsydige krieketspeler, Ferisco Adams, is gereed om die skuif na Sentraal-Suid-Afrika te maak nadat hy deur die VKB Knights gekontrakteer is.

Die Robertson-gebore speler sluit hom by die Knights aan uit die Wes-Kaap waar hy op franchise-vlak vir die Cape Cobras sowel as die Boland op provinsiale vlak gespeel het.
Adams het selfs tydens die 2019-uitgawe van die T20-kompetisie vir die huidige Mzansi Superliga-kampioene, die Paarl Rocks, gespeel.

Ná 39 eersteklaswedstryde het Adams 1900 lopies aangeteken, met vyf honderdtalle op sy kerfstok en ‘n hoogste telling van 149.

Met die bal het hy 108 paaltjies platgetrek, met die beste ontleding van 6/42, en hy het ook een keer tien paaltjies in ‘n wedstryd ingeoes.

Adams het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy, nadat hy beperkte speeltyd by die Cobras geniet het, voel ‘n skuif na die Knights is die regte een.

“Dit is opwindende tyd vir my. Ek het net gevoel dat ek hierdie skuif ook vir my loopbaan moes maak. Soos jy weet, het ek nie baie geleenthede gehad by die Cobras nie. Dit is opwindend om na die Knights te gaan en ek sien uit daarna.

“Ek was nog altyd ‘n aanhanger van hulle en hou van die manier waarop hulle hul krieket speel, so ek dink dit was ‘n goeie skuif om die geleentheid by hulle te aanvaar.”

Adams het bygevoeg dat die samewerking met die nuut aangestelde hoofafrigter, Allan Donald, ook sy spel sal bevoordeel en hy is gereed om die volgende hoofstuk van sy loopbaan te begin skryf.

“Hy was een van Suid-Afrika se bestes en om van hom te leer sal ‘n goeie ervaring wees.

“Ek weet dat hy my gaan help met my boulwerk en all die ander aspekte van my spel. Om saam met hom te werk, gaan ‘n nuwe hoofstuk in my krieketloopbaan wees en ek weet dat ek daarvan sal hou.”

Die ander nuwe spelers wat saam met Adams vir diens by die Knights gaan aanmeld, is Matthew Kleinveldt, Jonathan Vandiar, Jacques Snyman, Alfred Mothoa en Migael Pretorius. – MORGAN PIEK