Hy sorg vir ons

0
490

Ons leef in ’n besige tyd. Ons is veral in November moeg na ’n jaar se rondhardloop en besig-wees. Ons begin stadig maar seker afskakel terwyl die jaareindgesellighede nou weer ons program begin volmaak. Ons leef bymekaar verby en kry selfs min tyd om met die Here te praat en ’n bietjie stil te raak. Die wonderlike is dat God ons nooit vergeet nie. Sy program is nooit te vol nie. Ek lees in Jesaja 49: “So sê die Here, Ek sal jou nooit vergeet nie!” Ek en jy kan vanaand op ons bed gaan lê, moeg en uitgeput, en ons kan glo dat die Here ons naam ken en ons besige program verstaan. Hy is ’n God van omgee en van nuut begin. Hy is ’n God wat ons verstaan in die oomblikke waar die dag te kort is en die geduld maar min word. Hy is ’n God wat ons verseker van sy beloftes en sy liefde. Selfs die oomblikke wanneer ek en jy ons oë nie meer kan oophou en die slaap sommer net oor ons spoel, vergeet Hy ons nooit nie!

Ds. Stephan van Heerden

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.