Huurder desperaat oor bad vol riool in Brandwag

0
475
Chris de Lange

Twee inwoners van die Brandwag-woonstelle kla oor die stank en riool wat hulle in hul eenmanswoonstel oorweldig. Chris de Lange en sy vrou kon die afgelope tyd nie hul voordeur oopmaak vir vars lug nie en meeste van hul gloeilampe werk nie weens die klam toestand in die woonstel.

Die Vrystaat Maatskaplike Behuisingsmaatskappy (Freshco) is verantwoordelik vir die bestuur van die maatskaplike behuisingsprojek maar ondervind reeds ‘n geruime tyd finansiële probleme.

De Lange sê iemand het gekom om die riool te herstel, maar daar is net ‘n gat gegrawe en niks het verder gebeur nie.

“Ek woon al vir agt jaar in hierdie woonstel en het geen probleme gehad toe ek hier ingetrek het nie. Die woonstel was mooi skoon en ons het gehoor dat as ons die plek vir vyf jaar huur, dit ons eiendom sal word, wat ons gepas het aangesien ek en my vrou werkloos is en Sassa-toelaes ontvang,” verduidelik Chris de Lange.

Vir die afgelope paar maande sukkel hulle egter met ‘n verstopte rioolpyp reg voor hul woonstel. “Daar loop ‘n pad voor ons woonstel verby wat deur ander inwoners gebruik word om by hul woonstelle uit te kom. Daar is ook ‘n verstopte rioolpyp hier. Die maatskappy, Freshco, wil nie die rioolpyp kom regmaak nie en ons opsigter het aan my gesê dat hulle nie die geld het daarvoor nie,” voeg hy by.

Die klam toestande het gelei tot beskadigde mure in die De Langes se woonstel.

De Lange het aan Bloemfontein Courant vertel dat daar wel mense gekom het om die rioolpyp te herstel, maar dat hulle net ‘n gat gegrawe het en toe verdwyn het. “En dit stink, die gemors wat uit die riool kom is groen en slymerig. Nou sukkel ons om daardie gemors wat in ons bad beland deur die uitlaat daar uit te kry.”

Nadat Bloemfontein Courant probeer het om kommentaar oor die aantygings van Frescho te kry, is daar gesê dat daar wel iemand gestuur is om die rioolpyp te herstel. Die De Langes stem saam dat daar iemand opgedaag het maar die probleem is nie opgelos nie. “Hulle het ‘n paar mense gestuur, omtrent drie of vier keer, om die rioolpyp buite reg te maak, maar hulle het verdwyn,” sê De Lange.

Teen druktyd het Bloemfontein Courant steeds geen reaksie gekry van die opsigter nie, wat veronderstel was om te reageer sodra hy terug was by die Frescho-kantore.

Seithati Semenokane

seithati@centralmediagroup.co.za