Hulp vir moedige kankerlyertjie

0
861
Janique Venter, wat op vyf maande met neuroblastoom (kanker) gediagnoseer is.

Die driejarige Janique Venter, wat op vyf maande met neuroblastoom gediagnoseer is, benodig dringend behandeling vir dié kanker wat sy net in Amerika kan kry.

Leevona Pitout het die ouers van Janique se Facebook-blad, Hulp en Gebede vir Prinses Janique, gevolg en ook gesien hoedat ‘n 15-jarige seun artikels by Langenhoven Mark verkoop en R5 per artikel aan die dogtertjie skenk.

Sy vertel, “Daar is ongelukkig geen verdere behandeling in Suid-Afrika wat hulle vir die dogtertjie kan bied nie. Sy moet oorsee geneem word. Ek het besluit om te help omdat ek self ‘n ma van twee kinders is en my nie kan indink waardeur die mense gaan nie. Ek wil net regtig ‘n verskil maak in iemand se lewe. Ek wil hierdie behandeling moontlik maak vir Janique.”

Demi Lee Moore FOTO: WILLEM BOTHA

Pitout het besluit om geld in te samel vir die dogtertjie se behandeling deur die bekende Suid-Afrikaanse sangeres, Demi Lee Moore, te vra vir ‘n optrede waar Bloemfonteiners vermaak word en daar terselfdertyd geld ingesamel word vir klein Janique se reis na Amerika.

Die behandeling wat Janique benodig, word antineoplaston (ANP) genoem, ‘n IV-behandeling. Volgens Pitout is dit amper soos geen-georiënteerde terapie. Hulle kan Janique ongelukkig nie opereer nie; die gewas rondom die hoofslagaar in die nek en die bloedvate na die brein maak dit ‘n lewensgevaarlike operasie.

Leevona Pitout, organiseerder van die fondsinsameling vir die kankerlyertjie, Janique Venter.

“Ek het Bloemfontein se plaaslike kunstenaars ook genader en by die optrede betrek. Hulle het onmiddellik hul harte oopgemaak en gaan hul talente met ons deel.” Sy het bygevoeg dat sy ook uitstallers genooi het wat vir hulle gaan uitstal, en daar word ‘n klein bedrag gevra vir elke stalletjie.

Die toegangsgeld vir dagbesoekers om die plaaslike kunstenaars te sien optree en die stalletjies te besoek, is R10 per motor en elke bietjie geld gaan aan Janique se trustfonds.
Die koste wat gedek moet vir Janique se behandeling beloop R1 146 068.78. Dit dek konsultasie, maandelikse geval-bestuur, eenkanaalpompopknapping, eenkanaalpomp vir binneaarse behandeling (Body Guard), verpersoonlikte, doelgerigte terapie wat bykomende medikasie behels.

Pitout sê een van die vele seëninge is dat die eienaar van The Buffalo, Pieter Erlank, die perseel gratis beskikbaar stel. Sy vertel Erlank het nie eens gehuiwer nie toe sy hom bel en vra of hy van iemand weet wat bereid is om ‘n plek vir hulle te borg waar hy die gasheer kan wees. Hy was dadelik gewillig.

Demi Lee Moore sê dit is ‘n groot voorreg om uitgenooi te word en deel te wees van dié spesiale aand. “Sulke vertonings lê my altyd baie na aan die hart. Dit moet baie swaar vir haar en haar familie wees. Ons almal bid saam vir genesig, positiwiteit en bystand.”
Die mark en vertoning vind op 12 Desember 2020 plaas. Die hekke maak om 09:00 oop.

Demi se vertoning begin om 20:00. Toegangsgeld vir dagbesoekers is slegs R10 per motor.
Daar sal ook springkastele en ‘n speelarea vir kinders wees.

Kaartjiepryse vir Demi Lee se vertoning is R150 per persoon en vir kinders onder 8, R100.

Pitout kan gekontak word vir kaartjies by 082-606-9882. Kaartjies is ook te koop by Kiki Corner in Langenhovenpark.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za