Hulp nodig vir gemmerkat se held

0
436
Dr. Mardi Delport, ‘n dosent by die SUT.

Mandi Deysel, ‘n inwoner van Bloemfontein, wat vroeër hierdie week gehelp het om die beseerde gemmerkat by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) te vang, het haar hand ernstig beseer terwyl sy probeer het om die beseerde kat te red.

Bloemfontein Courant het gister berig oor Deysel en Dr. Mardi Delport, ‘n dosent by die SUT, wat die beseerde kat gevang het sodat hulle hom kon behandel. Die kat moes egter uitgesit word omdat hy onder meer leukemie en katvigs onder lede gehad het.

Die gemmerkat wat vir baie lank gely het, is uiteindelik gevang en moes ongelukkig uitgesit word.

Volgens Delport is Deysel beseer toe sy besig was om kos en water uit te sit vir ‘n ander kat, wat sy reeds die afgelope twee jaar daagliks voer.

Delport het vroeër vandag in ‘n inskrywing op Facebook mense geva om Deysel te help om die nodige geld vir mediese rekeninge in te samel, aangesien sy nie ‘n siekefonds het nie.

“Vriende, ek het jul ondersteuning nodig, asseblief. Mandi Deysel, wat die kat gevang het, het baie seergekry. Sy het geen siekefonds nie en die rekening sal meer as R10 000 wees. As jy enige finansiële bydrae kan maak, stuur vir my ‘n persoonlike boodskap sodat ons haar kan help,” het Delport geskryf.

As enige leser van Bloemfontein Courant graag wil help, stuur ‘n boodskap direk aan Delport via Facebook vir meer inligting. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za