
Die skielike afsterwe van mnr.Louis Siemens is ‘n enorme verlies, nie net vir die Sentraalgemeenskap nie, maar ook vir die breër gemeenskap in Bloemfontein. As besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in Prellerplein, was hy ‘n gerespekteerde en gesiene sakeman wat die gemeenskap met groot toewyding gedien het. As lojale ouer by Hoërskool Sentraal is hy in 2012 tot lid van die beheerliggaam verkies. Sy uitstaande kwaliteite en vernuf as ‘n dinamiese en visionêre leier het meegebring dat hy in 2013 verkies is tot voorsitter van die beheerliggaam – ‘n pos wat hy met uitsonderlike sukses beklee het. Met sy aansteeklike ywer was hy instrumenteel verantwoordelik vir die opgradering van talle infrastruktuurkomponente by die skool. Hy het ook ‘n sagte hart gehad vir diegene in nood en het dikwels ten koste van homself ruim finansiële bydraes, anoniem, aan behoeftige leerders oor die breë spektrum gemaak. Op meriete is Die Sentraler 2015 aan Louis Siemens en die beheerliggaam opgedra vir hul onbaatsugtige diens aan Sentraal.
Aan Marié, Eduard en Anja: Sentraal treur saam met julle oor die voortydige heengaan van jou man en julle pa. Hy was inderdaad ‘n groot gees en ons dank die Here vir sy vol lewe. Sentraal koester kosbare herinneringe aan hom! Johan Vorster.