Hul liefde vir diere ken geen afstand

0
1322
Sussies Erica Delport, Lana Potgieter en Colette Loock

Hoewel talle mense Saterdag deelgeneem het aan ETR.Run en WebAware se “agterplaas-wedloop” om geld in te samel vir die New Beginnings Animal Rescue Centre, was dit Lana Potgieter van Bloemfontein en haar WhatsApp-groep se deelname wat die aandag getrek het.

Colette en Malan
Loock van
Blaauboschhoek
in die distrik
Philippolis/
Luckhoff se
drafmaats

Omdat die lede van die groep oor die wêreld heen verspreid is, het hulle onder die naam Scattered Klan aan die Run 4 the Doggos-wedloop deelgeneem. Potgieter sê haar groepie is almal baie lief vir diere, daarom was dit eintlik ‘n baie maklike besluit om as groep deel te neem. “Ek het juis twee New Beginnings-kinders in my huis, waarvan een toevallig ‘n “inperkingsaanneming” is.

Frans Potgieter

“Benewens myself het ons groep ook ingesluit Colette en Malan Loock van Blaauboschhoek in die distrik Philippolis/Luckhoff ; Erica Delport van Bloemfontein; my man, Frans, wat hom tans bevind in Al Hofuf in Saudi Arabië, wat al langer as ons in ‘n staat van inperking is; en Lisa Sibthorpe van Welkom, wat ‘n mediese dokter is,” sê Potgieter.

Sy sê omdat haar man nou al so lank ingeperk is, is kontak met familie en oefening die enigste manier hoe sy haar “alleenheid” verwerk, hoewel sy darem die vier honde as geselskap het. Toe sy bewus geword het van die Run 4 the Doggos-wedloop, het sy dadelik haar groepie gekontak met ‘n voorstel dat hulle as ‘n groep moet deelneem. “Ons het heerlik op WhatsApp gelag en gesels oor die tegnologie wat ons dringend aan die werk moes kry vir die wedloop, want van die lede is redelik tegnologies gestremd.

Dit was lekker om vir ‘n veradering oor iets so opwindends te praat, as oor wie siek is en wat die Covid19-syfers in die verskillende lande is.” Niks kon die groep se geesdrif vir die wedloop demp nie. Selfs nie eens die feit dat Lisa Saterdag moes werk nie. Die groep het besluit dat Lisa haar treëteller moet aktiveer, en dit dan log as sy 5 km afgelê het. “Die res van ons het gestap, gehardloop, oor honde geval, en tussen geboue gehardloop waar dit al klaar 37 grade Celsius om 09:23 was om ons deel te doen.

Dit was net vir ons belangrik om ‘n bydrae vir New Beginnings se insameling te maak. Maar ek dink ons deelname het nie net vir New Beginnings gehelp nie. Dit was vir ons as ‘n groep meer werd om op ‘n ongewone manier weer deel te voel van ‘n gemeenskap,” sê Potgieter.

Pieter delport

pieterd@mahareng.co.za