“Dit het begin op my stoep en al die kamers wat aangrensend is, het gebrand.”
’n Groot tragedie net voor Kersfees het ’n inwoner van Bloemfontein getref toe ’n baie groot gedeelte van haar huis afgebrand het.
Drina Taljaard (60) van Watermeyerstraat, Hilton, sê sy was in haar kamer verlede Donderdag toe die brand begin het. Loseerders in haar erf het die brand gesien en haar gaan roep.
“Dit het begin op my stoep en al die kamers wat aangrensend is, het gebrand.” Sy is nie seker wat die brand veroorsaak het nie, maar brandstigting word vermoed.
“Dit was verskriklik om te aanskou. Ek het hulpeloos toegestaan en gekyk hoe dit brand. Ek het rugprobleme en loop met ’n loopraam. Ek kon nie self help nie.” Die brandweer en polisie het hulp verleen.
Taljaard sê die skade is enorm. Al die vensterrame, voordeur, hele stoep, verskeie kamers, plafon en dak het gebrand.
“Ek probeer nou skoonmaak en kyk wat gered kan word en wat nie.” In die stadium het sy nie klere, beddegoed, verf of skoonmaakmiddels om voort te gaan nie.
Sy lewe van ’n klein pensioen en haar huis is haar enigste besitting.‘Die skade is enorm’
“Ek was my hele lewe net goed vir mense en kan nie verstaan waarom iemand my skade sal aandoen nie,” sê sy.