Huidige weerstoestande kan tot veldbrande lei

0
40
Foto vir illustrasie. FOTO: 123rf.com

Vrystaat Landbou (VL) doen ’n beroep op boere in die provinsie om vroegtydig voor te berei vir die voorkoming van veldbrande.

Kempen Nel, voorsitter van Vrystaat Landbou se Natuurlike Hulpbronne komitee, het beklemtoon dat die goeie grasbedekking in die Vrystaat-provinsie brandstof vir veldbrande kan voorsien.

“Die weertoestande wat tans ondervind word, verhoog die risiko vir wydverspreide veldbrande. Daarom skakel Vrystaat Landbou tans met grondvlakstrukture om die nodige voorsorgmaatreëls te tref,” vertel die landbouorganisasie.

Deel van die voorbereidingsproses sluit die Agri Relief Foundation se skenking van 35 blasers aan VL-strukture in.

Volgens Vrystaat Landbou het brandbeskermingsverenigings reeds hul brandplanne by die Departement van Omgewingsake en Bosbou ingedien, en daar is ook reeds op 27 Junie in Bloemfontein met die nasionale departement vergader.

“Lede van die publiek en kontrakteurs word gevra om bedagsaam te wees wanneer hulle deur die platteland ry.

Hulle word versoek om nie tot die brandgevaarrisiko by te dra deur oop vure te maak of met toerusting in die veld te werk wat vonke veroorsaak nie, aangesien dit tot veldbrande kan lei,” sluit Vrystaat Landbou af.

 

Saamgestel deur Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za