HTS Louis Botha maak skoonskip in sewesrugby

0
HTS Louis Botha maak skoonskip in sewesrugby

GEORG VAN ECK

Die sewesrugbyspan van HTS Louis Botha in Bloemfontein het sterk aanslae afgeweer in die Dihlabeng Bethlehem-sewestoernooi op Bethlehem om met die titel weg te stap. Veral die kragmetings in die halfeindrondte en eindstryd was taai. Die Bloemfonteiners, wat deur Corne Erasmus en Jan Gouws en Johan van der Sandt gebrei word, het egter enduit vasgebyt om die titel te verower.
In die halfeindstryd het HTS Louis Botha die gasheerspan van die Hoërskool Voortrekker 17-15 geklop. In die eindstryd het die Bloemfonteiners teen die sterk span van Hoërskool Hentie Cilliers van Virginia te staan gekom, maar HTS Louis Botha het weer die knoop 26-24 deurgehak.

Die uitstekende spel van die kampioen is beloon deurdat vier van HTS Louis Botha se spelers, Dale Koopman, Refiloe Rampeta, Olwethu Ndakisa en Luke Ceyster, gekies is vir die Dihlabeng Bethlehem-sewesspan wat in Desember aan ’n toernooi in Dubai gaan speel. Die voormalige Blitsbok-kaptein van die Vrystaat en sewesafrigter, Neil Powell, was een van die keurders wat die span na Dubai gekies het.

HTS Louis Botha het op die toernooi ook met die spanne van Sarel Cilliers van Glencoe (26-10), Witteberg van Bethlehem (33-5), Middelburg van Mpumalanga 31-5 en Brandwag van Uitenhage 15-7 afgereken.

No posts to display