HTS kraai 9de keer koning

0
927
HTS Louis Botha het weer as die kampioene in die Vrystaat A-rugbyliga weggestap.

Die Hoër Tegniese Skool Louis Botha het vir die 9de keer in die A-skolerugbyliga koning gekraai.
Die eerste rugbyspan het die afgelope Saterdag op Shimlapark teen die Hoërskool Sentraal uitgedraf om die Vrystaat A-liga-eindstryd 47-15 te wen.
“Ons het gedink dit gaan ‘n moeilike eindstryd wees aangesien die telling baie nader aan mekaar was met ons ligawedstryd,” het die span se afrigters, Werner Jansen van Rensburg en Mokoa Bolofo, vertel.
Die span het ‘n uitstekende rugbyseisoen gehad en het elke wedstryd waarin hulle teen die Hoërskool Sentraal, Jim Fouché, Fichardtpark en Landboudal gespeel het, vir ‘n telling van meer as 40 punte op die telbord gesorg het en meer as vier drieë in elke wedstryd gedruk het.
Die afrigters se harte loop oor van trots. “Ons het daagliks bitter hard geoefen en die manne was baie toegewyd. Ons is opgewonde oor die toekoms en die feit dat baie spelers volgende jaar weer vir die eerste span kan uitdraf,” sê Jansen van Rensburg.
Dit is vanjaar al die negende keer uit elf dat die span die beker in die liga huis toe vat en die derde keer in ‘n ry dat die span die eindstryd haal en wen. Asof dit nie genoeg is om op trots te wees nie, speel die jong manne dié naweek in die Kovsieliga se semi-eindstryd en spog hulle met sewe spelers in die Cravenweekspan, nege in die Akademie-span, twee in die Arendespan en een in die Vrystaat-onder 17-span.
Elke speler het sy kant gebring en uitblinkers was onder andere Francois Boonzaaier, LihleLolwane, Zongi Nxiya, Brandon-Lee Adams en Jaden Seekoei in. “Ons is bitter trots op die span en sien uit na wat volgende gaan gebeur. Die spelers het ‘n liefde vir die sport en hul gees verklap dit!” sê Bolofo.

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za