Hospice Bfn wil menswaardige sorg bied

0
535
Hanneke Lubbe, hoofbestuurder van Hospice Bloemfontein en die Vrystaatse verteenwoordiger van die organisasie Hospice and Palliative Care Association of South-Africa

Die nie-winsgewende organisasie, Hospice Bloemfontein, hoop om binne die volgende maand in staat te wees om vir pasiënte wat sorg benodig, kamers aan te bied by die Siësta-aftreeoord.

Die organisasie woel en werskaf tans om dié kamers gereed te kry en mooi in te rig. Hospice Bloemfontein bied palliatiewe versorging aan pasiënte met lewensbedreigende siektes asook ondersteuning aan hul geliefdes.

Volgens Hanneke Lubbe, hoofbestuurder van Hospice Bloemfontein en Vrystaatse verteenwoordiger van die organisasie Hospice and Palliative Care Association of South-Africa (HPCA), is dit ‘n groot uitdaging om die kamers só in te rig dat dit menswaardig, mooi en ook prakties sal wees.

Die kamers gaan meestal vir ’n maksimum van twee weke aan pasiënte toegewys word – een pasiënt per kamer – en dit sal hoofsaaklik wees om pyn en simptome te beheer, ‘n ruskansie aan familielede te bied, en om aktiewe “eindevan-die-lewe” versorging beskikbaar te stel. Lubbe sê dat hulle in die paar jaar wat hulle in Bloemfontein werksaam is, telkemale bewus geword het van die groot behoefte aan ‘n plek waar pasiënte tydelik opgeneem kon word, ongeag of hulle private of staatspasiënte is.

“Baie keer is die hospitaal nie ’n opsie nie, of is daar net nie iemand wat die versorging by die huis kan oorneem nie. Of soms is daar net glad nie ’n huis nie! Dit het ons gemotiveer om uit te kyk vir ’n plek waar ons Hospice-kamers kan inrig vir almal wat dit sou nodig hê en waar geliefdes by die pasiënte kan wees.” Sy vertel verder dat daar vir hulle by Siësta ‘n geleentheid opgeduik het, aangesien daar ’n vleuel is wat so te sê leeg was en wat aan die een kant van die gebou geleë is, met sy eie ingang.

Dit was ideaal vir hulle. “Boonop is sr. Joan Marston hoof van die versorgingseenheid by Siësta. Sy kan help om toe te sien dat die versorging professioneel en korrek is. Ons is ook opgewonde oor die opleidingspotensiaal wat dit aan kliniese personeel sal kan bied.” Sy voeg by, “Die kamers is nie net vir kankerpasiënte nie, hoewel hulle die meerderheid van ons pasiënte uitmaak. Ons neem ook pasiënte op met gevorderde orgaanversaking, motor-neuronsiekte, asook pasiënte met kroniese longkwale wat reeds op suurstof is.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za