PIETER MÖLLER
Wintershoek Wildsplaas naby Kimberley is die enigste plek in Sentraal-Suid-Afrika wat ’n veilige hawe vir renosterwesies geword het. Dié renosterkalfies se ma’s is vir hul horings doodgemaak terwyl die kalfies verlate agtergelaat is.
Wintershoek se eienaar, Wian van der Linde, werk nou saam met die organisasie Wild Hearts Rehab Centre, om die renosterwesies groot te maak en weer in die veld te kan vrylaat. Hy sê nie net renosterbulle word gestroop nie, maar ook koeie.
Vir ’n renosterkalfie is die band met sy ma vir die eerste drie jaar baie belangrik. Dit is traumaties vir kalfies om sonder hul ma’s te wees en die meeste van hulle vrek in die eerste paar weke weens maagsere en stres. Om die sterftes te voorkom, moet daar ’n band opgebou word tussen die kalfi e en sy mensma, wie hulle dan grootmaak. Van der Linde sê vir die eerste 4 tot 6 weke, is dit baie belangrik dat die persoon wat hulle hanteer, ongeveer 24 uur per dag saam met hulle deurbring, leef, fi siese kontak behou, gesels en hulle leer om te eet en te drink. Die klein renosters drink elke vier ure ongeveer vier tot ses liter melk en hul daaglikse dieet word aangevul met pille en lusern.
Hy sê die renosterwesies word vir ’n tydperk van ongeveer 12 maande gerehabiliteer in kleiner kampe en word dan weer in die veld geplaas om voort te gaan met hul normale lewe. Ansabet le Roux is nie net ’n normale hanteerder van die renosterwesies nie, maar sy tree op as ma vir die volle tydperk wat hulle gerehabiliteer word. Sy probeer die eerste vier tot ses weke ’n spesiale band opbou, want dit is belangrik dat die kalfi es haar vertrou. “Hulle bly in ’n spesiale boma wat ons vir hulle gebou het, en eintlik is dit my tuiste ook vir die eerste maand en langer, op ’n 24-uur grondslag,” vertel sy.
Oor of dit gevaarlik is om saam met die kalfi es te leef, sê sy: “Ja, jy moet onthou dit bly maar ’n wilde dier en op vyf maande weeg hulle al sowat 300 kilogram.”
Le Roux sê sy praat baie met die kalfies want hulle moet aan haar stem gewoond raak. Sy kielie hulle op die lieste, waarna hulle bene skoon invou onder hulle, van pure lekkerkry. Die kalfi es is ook baie lief om in die modder te rol. Daar is ook ’n bietjie van ’n hartseer einde wanneer die wesies na ongeveer 15 maande weer in die veld vrygelaat word. Le Roux sê voor hulle heeltemal gespeen word, bring sy al hoe minder tyd saam met hulle deur en begin om die kontak ook te verminder, wat maar party dae moeilik is.
Alles is die moeite werd, want terug in die veld pas hulle meestal goed aan.