Hoofmeisie se toespraak gryp harte aan

0
963
Chanteé King hoofdogter van Oranje Primêr Troskie en hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje.

Ná ’n toespraak wat nie net die harte leerders, hul ouers en belangstellendes geraak het nie, maar ook ’n hele paar mense emosioneel gelaat het, sou Magé Troskie, hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje, nooit kon raai dat haar toespraak vir die inkomende graad 8’s virtueel op sosiale media gesien sou word nie.

“Ons het ons tradisionele Pampoenrokfunksie by die skool gehou, waar die graad 8’s vir die eerste keer hul pampoerokke kon aantrek. As hoofmeisie moes ek hulle verwelkom met ‘n spesiale boodskap,” vertel Magé.

Met die reël, Die Here sê dat jy beeldskoon is. Hoe durf jy anders glo? Lig jou ken en ken jou lig, uit Magé se toespraak, het sy harte aangeraak. Dit is ook hierdie sin wat vir haar die meeste beteken, het sy aan Bloemfontein Courant gesê. “Ek het my toespraak uit die hart uit geskryf. As ek self glo in dit wat ek sê, sal almal kan glo in dit wat ek sê.”

Volgens Magé was die toespraak belangrik vir haar omdat dit ‘n spesiale dag vir die graad 8’s was. Dit is wanneer die graad 8’s se toetrede tot die skool gevier word en hulle vir die eerste keer verwelkom word as deel van Oranje.

“Ek het nooit in my lewe gedink dat daardie boodskap so wyd sou versprei nie! Dit is regtig ongeloofl ik. Die graad 8’s en matrieks was daar om die toespraak in lewende lywe te hoor. Digi TV het dit moontlik gemaak dat die res van die skool en die ouers ook digitaal na die geleentheid kon kyk,” vertel sy.

Vir Magé is dit ’n ongelooflike voorreg om hoofmeisie te wees. Oranje is van aerskooldae af haar droomskool en nou is sy hoofmeise van haar droomskool.

“Wow! Ek is werklik dankbaar en ek geniet die chaos. Om hoofmeisie te wees is soveel meer as om toesprake te lewer en ‘n balkie te dra. Om hoofmeisie te wees is om die voorbeeld te wees wat jy graag wil sien. Om die verskil te wees. Om die lig te wees. Ek is die stem van die leerders rondom my.”

Die video is op die Hoër Meisieskool Oranje se Instagram- en Facebook-blad geplaas en is reeds deur meer as 14 000 mense gedeel. Johan Ramkat Boer, ’n gewilde gebruiker van Facebook wat meer as 24 000 volgelinge op Facebook het, het ook die video met sy aanhangers gedeel en talle kykers gelok. Magé se toespraak kan gesien word op:  http://bit.ly/magetoespraak

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za