Hondeskoue bied groot opwinding

0
1451

Free State Agility & Dog Training Club (FSA&DTC) bied weer in Augustus sy jaarlikse Bloemfontein Winter Classics- kampioenskapskoue vir hondespring en -ratsheid aan by die Laerskool Sand du Plessis. Vanjaar vind die skoue van Donderdagoggend, 7 Augustus 2014 tot Sondagmiddag, 10 Augustus 2014 plaas. Die skoue begin elke oggend om 8:00 by die skool en sal tot ongeveer 18:00 duur.
Daar word weer sewe skoue aangebied aangesien die eer weer dié klub te beurt geval het om die Kennel-unie van SA (Kusa) se kampioenskappe en nasionale byeenkoms aan te bied. Hierdie skoue word gewoonlik elke jaar in ‘n ander provinsie aangebied, maar die Vrystaat is vanjaar bevoorreg om dit vir die sesde agtereenvolgende jaar aan te bied. Ons bied ook vir die vyfde jaar ‘n FCI-skou aan vir Kusa. Hierdie kompetisie word volgens internasionale reëls aangebied. Vanjaar sal "Fly-ball"-kompetisies ook vir die sesde keer hier aangebied word. Die "Fly-ball" sal reeds soggens om 7:00 begin.
FSA&DTC sal ook weer, soos gewoonlik, die interprovinsiale hondespringbyeenkoms die Saterdagoggend, 9 Augustus 2014, om 8:00, by die Boeremark in Langenhovenpark aanbied. By hierdie byeenkoms neem spanne uit al die provinsies deel in die afdeling vir groot, medium en klein honde. Na afloop van die interprovinsiale byeenkoms sal die hondespringskoue weer van 12:00 af by die Laerskool Sand du Plessis voortgesit word.
Die publiek word hartlik uitgenooi om hierdie skoue by te woon en te sien hoe die honde dit geniet om oor hindernisse op ‘n opgestelde baan te spring. Kom ondersteun ook die Vrystaatse span by die interprovinsiale byeenkoms by die Boeremark.
Toegang is gratis by die Laerskool Sand du Plessis en heerlike verversings sal te koop wees.
Vir navrae in verband met die hondespringskoue kan u 083-303-0222 of 051-522-8518 skakel.