Hollywood in my Huis-première in Bloemfontein

0
2306
Mark Steenbok

Die première van die langverwagte tienerkomedie Hollywood in my Huis, het gisteraand in ‘n atmosfeer van groot afwagting die Epic Cinema by die North Ridge Mall in Bloemfontein plaasgevind.

Die byeenkoms is onder meer deur die regisseurs en akteurs van die tienerkomedie bygewoon. Corné van Rooyen, regisseur en skrywer van Hollywood In My Huis het aan Courant vertel dat sy groot droom, om sy eerste vollgengte rolprent te skiet, uiteindelik waar geword het.

“Dit het my 10 jaar gevat om by hierdie punt uit te kom. Elke oggend as ek na die stel toe ry kon ek nie glo ons werk uiteindelik aan die fliek nie. Drome kan waar word as daar mense om jou is wat ook drome het”, sê Van Rooyen.

Hy noem verder dat die fliek slegs 25 dae geneem het om te skiet en dat hy na karakters gesoek het met “natuurlike elemente”.

“Ons het vir twee jaar lank na die regte akteurs gesoek. Ons het die hele land vol gereis om die hoofakteurs in die hande te kry. Ons het na nuwe vars akteurs gesoek vir die fliek. Ons het eerste op Christia (Visser) afgekom en twee jaar daarna op Edwin.

Christia Visser, wat die rol van die vurige tiener Jana van Tonder vertolk, vertel die fliek is eg aan Suid-Afrika met universiële elemente.

“Alles was net amazing; die storie is so eg. Dit is ook so eg aan myself. Op skool was ek die dromer en hopeless romantic. So, ek raak nogal nostalgies elke keer as ek daarna kyk,” sê Visser.

Edwin van der Walt vertolk die rol van Frikkie Kruger. Hy vertel aan Courant dat Frikkie bietjie van ‘n vreemde karakter is.

“Frikkie is ousiel, bietjie van ‘n rebel. Hy is ook ‘n vreemde karakter, maar hy is baie lief vir Jana,” sê Van der Walt.

Die rolprent sal Vrydag (26 Junie) landwyd in teaters begin draai.

Die fliek fokus op Jana van Tonder, wat in ‘n arm spogbuurt saam met haar disfunksionele ouers woon. Sy sien een aand hoe Charlize Theron haar Oscar-beeldjie wen, wat terselfdetyd vir Jana inspireer om haar matriekafskeid in haar eie Hollywood-rooitapytoomblik te omskep. Jana wil vir Brandon, die tenniskampioen, vra na die afskeid, maar haar beste vriend en buurseun Frikkie is ook in die geheim smoorverlief op haar.