Hof hoor Lombard kon soms nie tussen feit en fiksie onderskei

0
400
MARINÉ JACOBS

Magda Lombard kon met tye nie tussen feit en fiksie onderskei nie. Só het die Vrystaatse Hooggeregshof vanoggend gehoor in die saak teen Kadisang Michael Moema (34) wat tereg staan op twee aanklagte van verkragting nadat Lombard in 2011 beweer het hy het haar verkrag terwyl sy ‘n pasiënt in die onkologie eenheid van die Universitas Annex was. Lombard het beweer dat ‘n verpleër haar verkrag het, terwyl ‘n verpleegster haar vasgehou het. Sy kon egter nie die verpleegster later tydens ‘n foto-uitkenning uitwys nie en slegs Moema is aangekla.

‘n Kliniese assistent in onkologie, Johannes Raats, het vanoggend getuig dat Lombard met tye nie korrek op realiteit gereageer het nie en soms absurde goed kwytgeraak het. Hy sê dat haar verstandelike toestand geensins vreemd was vir ‘n persoon met so ‘n ernstige mediese kondisie soos sy en in ag genome die medikasie wat sy ontvang het nie.

Die matrone wat op diens was die nag na die beweerde verkragting, Dipuo Matobisa, het getuig dat Lombard daardie nag beweer het sy is weer verkrag. Staatsaanklaer Amanda Bester het aan Matobisa uitgewys dat dit teenstrydig is met ‘n ander getuie se verklaring, maar Matobisa het by haar getuienis gehou

Die verpleegster, Janette Kgoane, was ook vanoggend in die getuiebank. Lombard het aanvanklik aan haar man gesê Kgoane was die medepligtige. Kgoane het getuig dat sy Moema wou beskerm “omdat Lombard sê ons het haar verkrag.” Sy het ontken dat sy of Moema skuldig is aan die beweerde misdrywe. Staatsaanklaer Amanda Bester het aan die hof gesê dat Kgoane se getuienis nie in ag geneem kan word nie, omdat sy openlik erken dat sy vir Moema wil beskerm.

Die hof het verdaag tot môre om die staat en verdediging geleentheid te gun om hul slotbetoeë voor te berei.