Hoëvlak polisieondersoek na Bird Island

0
1132

Aantygings van ’n pedofielnetwerk waarby senior lede van die Nasionale Party-regering na bewering betrokke was, word op ’n hoë vlak deur die polisie ondersoek.

Die aantygings word gemaak in die boek Die seuns van Bird Island, wat geskryf is deur die gewese polisieman Mark Minnie en die joernalis Chris Steyn, en uitgegee deur Tafelberguitgewers. Verskeie mense met kennis van die beweerde pedofielnetwerk het waardevolle inligting aan die polisie gegee. ’n Aantal slagoffers het na vore gekom en skriftelike verklarings van beweerde seksuele mishandeling, wat verband hou met die bewerings in die boek, afgelê.

Tafelberg het die Suid-Afrikaanse Polisiediens op 6 September genader met nuwe inligting wat ná die verskyning van die boek aan die lig gekom het. Die polisie het ’n ondersoek van stapel gestuur onder leiding van die hoof van die Wes‐Kaap se eenheid teen gesinsgeweld, brig. Sonja Harri.

Minnie is ’n week ná die verskyning van die boek oorlede weens ’n skietwond aan die kop. Sedertdien is daar herhaaldelik probeer om Steyn te intimideer.

Desondanks het Steyn voortgegaan om ondersoek in te stel en leidrade op te volg. Sy het van die begin af haar volle samewerking aan die polisie gegee.

Die skrywer het toestemming van bronne gekry om hul identiteit aan die polisie bekend te maak, en ook mense oorreed om beëdigde verklarings af te lê. Nuus van die polisieondersoek is verswyg om ondersoekers die ruimte te gee om hul werk te doen. Gedurende dié tyd het Tafelberg en Steyn geen nuwe inligting aan die media bekend gemaak nie sodat die polisie ongehinderd met hul werk kon voortgaan.

Sowel die uitgewer as die skrywer is dankbaar dat die polisie bereid is om skaars hulpbronne toe te sê aan ’n saak wat meer as 30 jaar oud is. Die aangeleentheid word ook deur die Stigting vir Menseregte ondersoek. Die stigting het onder meer ’n forensiese kenner aangestel om Minnie se liggaam te ondersoek ten einde die omstandighede van sy dood te bepaal. Die bevindings van die forensiese kenner was onbeslis. Die aanvanklike verslag van die ondersoeker wat deur die stigting aangestel is om getuies wat in die boek genoem word op te spoor, is aan die polisie se eenheid vir kinderbeskerming oorhandig.

Tydens die ondersoek het die stigting deurgaans regsondersteuning en advies gekry van Tim Fletcher, ’n prokureur van die Sandtonse regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr, en advokaat Howard Varney, ’n lid van die Johannesburgse balie, as deel van hul pro bono‐verbintenis daartoe om geregtigheid vir almal toeganklik te maak. Die ondersoek duur voort.

Die seuns van Bird Island is geskryf en uitgegee in die hoop dat die saak vir die eerste keer behoorlik ondersoek sal word. Dit gebeur nou uiteindelik. Dit beteken dat mense wat steeds vrees vir hul en hul gesinne se veiligheid nou na vore kan kom sonder dat hul identiteit openbaar gemaak sal word. Enigiemand met inligting oor Die seuns van Bird Island kan ’n e‐pos stuur na birdisland2018@gmail.com.

info@bloemfonteincourant.co.za