Hoërskool Sentraal kraai 5de keer koning in Quiz Whizz

0
399
Die wenners, Raymond Janse van Rensburg, Dian van Wyk en HZ Lombard van die Hoërskool Sentraal, wat vanjaar met R15 000 se beursprysgeld weggestap het.

Die Fakulteit Ingenieurswese en Inligtingstegnologie aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat (SUT) het sy 20ste jaarlikse High School Quiz Whizz-kompetisie aangebied om die belangrikheid van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde onder hoërskoolleerders aan te moedig en te bevorder. Dit stel deelnemers in staat om uit die boks te dink, hul innoverende en kreatiewe denke toe te pas en te kom met oplossings vir wêrelduitdagings.

Skole wat deelgeneem het sluit Grey-kollege Sekondêr, die Hoërskool Sand du Plessis en die Hoërskool Sentraal in.
Die Hoërskool Sentraal het eerste gekom en is vereer omdat hulle die kompetisie vir die vyfde keer in 20 jaar gewen het.
Die wenspan se leerders het elk R15 000 se prysgeld vir studiebeurse vir 2019 ontvang terwyl Sand du Plessis se deelnemers R10 000 elk ontvang het en Grey-kollege s’n R7500 elk.

Volgens Carel Korff, koördineerder en aanbieder van die geleentheid, is die twee hoofdoelstellings van die vasvra om jong skoolleerders aan te moedig op die opwindende gebied van ingenieurswese, tegnologie, wetenskap en die omgewing, asook om die SUT bloot te stel as die universiteit van keuse vir voltydse studente in ingenieurswese en tegnologie in sentraal-Suid-Afrika. “Ons is bevoorreg om hierdie gebeurtenis vir twintig jaar aan te bied en sodoende ons Vrystaatse gemeenskappe te dien en ons jeug aan te moedig om hul studies en loopbane in hierdie wonderlike uitdagende wêreld van wetenskap, ingenieurswese en tegnologie te volg. Dit is die 21ste eeu, en ons beweeg saam met die tye,” het hy gesê.

Hierdie jaarlikse vasvra is een van die vlagskip-geleenthede wat deur die Fakulteit van Ingenieurswese en Inligtingstegnologie aangebied word onder leiding van Linda Meiring van die bemarkingskomitee. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za