Hoërskool Fichardtpark hou kultuurweek

0
643
Foto: www.fpark.co.za

Die Hoërskool Fichardtpark bied hierdie jaar vir die sewende keer sy kultuurweek aan, met die tema vir 2019, “Kultuur – my erfenis.” Die Kultuurweek sal van 19 Augustus tot 23 Augustus 2019 duur en die doel is om soveel moontlik leerders in die skool aan ‘n verskeidenheid kulturele aktiwiteite bloot te stel en om terselfdertyd verborge talente te ontdek.

Renette Griessel het aan Bloemfontein Courant gesê dat die Hoërskool Fichardtpark ‘n kultuurskool is, dus verstaan hulle onder ‘kultuur’ Suid-Afrikaanse kultuurerfenis.

Sy sê ook dat die hoogtepunte vir 2019 onder meer die skryfkompetisie en skryfwerkswinkel wat deur dr. Francois Smith van die Departement Afrikaans aan die UV, aangebied sal word. “Die dramaproduksies deur ons leerders en die dramawerkswinkel wat deur Gerben Kamper aangebied sal word, is van die hoogtepunte,” sê Griessel.

Sy voeg by dat die Fichies Got Talent (FGT) vir die leerders ‘n heerlike geleentheid is waar hulle hul talente ten toon kan stel deur sang, dans, individueel of in groepe, terwyl daar ook ‘n kuns- en fotografie-uitstalling is vir diegene wie se talente daar lê.

“Ons skool het ‘n ywerige fotografieklub en die videografieklub sal gedurende pouses in die kultuurweek kortfilms vertoon wat deur die leerders self vervaardig is,” sê Griessel. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za