Hoërskole-atlete maai onder Vrystaatrekords

0
771
Die uitstekende hamergooier van HTS Sasolburg, Phetisang Makhete, het die naweek met die beste vertoning by die atletiekkampioenskap van die Vrystaat-hoërskole ontplof. FOTO: ACTION PHOTOS

Daar het 24 Vrystaat-rekords (13 meisies en 11 seuns) in die slag gebly toe die beste atlete van die provinsie mekaar die naweek trompop geloop het by die Vrystaatkampioenskap vir hoërskole wat op die Mangaung-stadion in Bloemfontein beslis is.

Dit is indrukwekkend, maar maak jy ‘n draai by die uitslae van verlede jaar se SA hoërskole-kampioenskap, sou slegs twee van die genoemde 24 nuwe rekordhouers ‘n goue medalje kon verower. En, albei hierdie atlete is veldatlete.

Phetisang Makhete (HTS Sasolburg) se hamergooivertoning het kop bo water bo die res uitgesteek en haar toekoms in dié nommer is beslis met goud besprinkel. Sy het die naweek in die afdeling vir meisies 17 jaar haar ysterbal op ‘n allemintige 65,50 m met moeder aarde laat kennis maak. Dié gooi is nie slegs ‘n reuse-7,66 m verder as die wenafstand (57,84 m) op verlede jaar se SA kampioenskap nie, dit is ook ‘n goeie 3,27 m verder as die Vrystater, Tharina van der Walt, se SA-skolerekord van 62,23 m.

Wynand Swanepoel (Voortrekker Bethlehem) het op sy beurt in die diskusgooi vir seuns 17 jaar die Vrystaat-rekord sy eie gemaak en bykans ‘n meter verder gegooi as die wenafstand (57,90 m) tydens verlede jaar se SA kampioenskap. Hy het 58,81 m gegooi, maar het nog werk om te doen indien hy die SA rekord van 63,14 m wil skrikmaak.

Hoewel Charné Wansbury (Oranje) en Natasha Gertenbach (Fichardtpark) albei die onderskeiding behaal het om elk twee Vrystaatrekords te verower, was nie een van hulle tye vinniger as die wentye op verlede jaar se SA’s nie. Wansbury se Vrystaat-rekords het gekom in die 100 m (12,47) en 200 m (25,49) vir meisies 14 jaar, terwyl Gertenbach haar nagedoen het in dieselfde ouderdomsgroep in die 90 m-hekkies (13,69) en 300 m-hekkies (45,40). Ter versagting, vir die SA skolekampioenskap is daar slegs 15, 17 en 19 jaar-ouderdomsgroepe, dus kan Wansbury en Gertenbach in 2020 steeds in die 15 jaar-afdeling meeding.

Dieselfde geld vir Miné de Klerk (Goudveld), wat ook ‘n Vrystaat-rekord-tweekuns gesmaak het. Sy het korte mette gemaak van dié rekords in die gewigstoot (16,55 m) en spiesgooi (44,47 m) in die 16 jaar-ouderdomsgroep. Sy het weliswaar nie verder gegooi as die wenafstande van verlede jaar se SA kampioenskap nie, maar sy kan aanstaande jaar steeds in die 17 jaar-afdeling aantree.

Die blits van die St Andrewskool vir seuns in Bloemfontein, Limpho Mpopo was die enigste seun wat twee Vrystaat-rekords laat spat het. Hy het die 200 m (23,20) en 400 m (52,65) aangeteken. Dit skiet egter spreekwoordelike ligjare tekort in vergelyking met die onderskeidelike wentye by die SA kampioenskap in dieselfde nommers (200 m, 22,02 en 400 m, 47,99) in die 15 jaar-ouderdomsgroep. Hoewel Mpopo in 2020 steeds in die 15 jaar-ouderdomsgroep kan deelneem, blyk dié SA rekords straks nie onmoontlik nie, maar onwaarskynlik, tensy daar in ‘n bestek van 12 maande ‘n reuse-ontploffing in sy vertonings gaan kom. – RUFUS BOTHA