Hoër pluimbalposisie vir SA op wêreldranglys

0
564
RUFUS BOTHA

Bloemfontein is steeds die teelaarde van puik Suid-Afrikaanse pluimbalspelers. Skielik steek nóg een sy kop uit – en dit op die wêreldverhoog. Onthou gerus die naam, Andries Malan.

Die 19-jarige Malan het nog baie jare se spel oor om as een van die grotes op wêreldvlak te ontwikkel. Hy het reeds met sy groen-en-goud die pluimbalwêreld van hom laat kennis neem.

Malan is dalk nog effe wisselvallig, maar dit is te verstane, want pluimbalkenners vertel jou gou dubbelspelspelers neem langer om te ontwikkel, en dit is in die einste dubbels waar hy gedy.

Suid-Afrika was een van die lande wat twee weke gelede aan die gesogte wêreld-spankampioenskap (Sudirman-beker) in China deelgeneem het. Die land het aanvanklik in die groepfases met van die groot name in wêreld-pluimbal, Turkye, Tjegiesse Republiek en Oostenryk swaarde gekruis waar veral Malan en Wian Viljoen spel van hoogstaande gehalte gelewer het. Viljoen is die kaptein van Suid-Afrika en óók ‘n Bloemfonteiner. Hy het die land reeds op die Olimpiese Spele verteenwoordig.

Terloops, die helfte van die Suid-Afrikaanse span bestaan uit Vrystaters, meer spesifiek, inwoners van die Rosestad.

Hoewel die Suid-Afrikaners goed vertoon het is hulle uitgeskakel in die groepfases. Hulle moes toe uitspeel vir beter plekke op die wêreldranglys. Dit is reeds hier waar Malan van sy beste pluimbal ooit opgedis en ‘n groot bydrae gelewer het om Suid-Afrika na sy hoogste plek ooit op die wêreldranglys (27ste) te lig. Dit is die hoogste wat die land nog ooit op die genoemde ranglys was. Die vorige beste was 29ste.

Malan het saam met sy Suid-Afrikaanse spanmaat, Jennifer Fry (Gauteng) in die gemengde dubbelspel, vir plekke op die ranglys teen Italië oorwinning gesmaak.

In die proses het Suid-Afrika se Elmé de Villiers (nóg ‘n Bloemfonteiner) haar beste wedstryd van die toernooi in haar spesialis-dissipline (enkelspel) gespeel en haar Italiaanse eweknie laat bontstaan met haar geweldige vaart en mokerhoue. Sy het gesorg dat Suid-Afrika weer die voortou neem nadat die Gautenger Prakash Nath, wat voltyds in Ierland oefen, met ‘n verloorwedstryd (enkelspel) tevrede moes wees. Met Suid-Afrika 2 – 1 voor was dit "maak of breek" en dit was "maak" in hierdie geval. Want, Malan en Viljoen het na ‘n titaniese stryd in die dubbelspel vir mans die Italianers getroef om die Reënboognasie met 3 – 1 te laat seëvier.

Die waardetoevoeging tot Suid-Afrikaanse pluimbal uit Bloemfontein-geledere is van onskatbare waarde. Nie slegs was Viljoen, kaptein van die span na China, ‘n Bloemfonteiner nie, so ook was die afrigter van die span, Chris Dednam.

Met hierdie opwaartse peil wat pluimbal Bloemfontein beleef, is ‘n top-20-plek vir Suid-Afrika op die wêreldranglys nie uitgesluit nie en moenie verbaas wees indien dit reeds voor die Olimpiese Spele (2016) in Rio de Janeiro gebeur nie.