Hoender neem gesin se huis op horings

0
725
Die hoender wat sy intrek in die huis van die Vorster-gesin geneem het.

Met die Vorster-gesin se terugkeer van vakansie vanjaar, het hulle ‘n onverwagte gas in hulle huis gekry – ‘n hoender wat heerlik op die Induksie-stoofplaat gelê en slaap het.

Volgens Jenny Vorster het hulle haar natuurlik uitgejaag en só het die storie met die hoender begin.

“ ‘n Haan het die hoender heeltyd op die werf rondgejaag en sy het agtergekom sy is veiliger in die huis. Sy is glad nie mak nie en hou ‘n veilige afstand, maar het intussen ‘n ‘liking’ in my gekry en hang rond waar ek is.”

Vorster het verder verduidelik dat sy nie veel notisie geneem het van die hoender wat nou saam met hulle bly nie, maar die snaaksste ding het Saterdagoggend gebeur. “Ek het op die bank gelê en TV kyk en het vir ‘n oomblik gewonder waar die hoender is. Toe ek opstaan, sien ek die hoender lê uitgestrek op die ander bank, besig om te slaap.”

Om haar mak te maak het sy haar ‘Kiep’ begin noem en met kos gelok. Dit is nou ‘n probleem, want as Jenny ‘Kiep-Kiep’ sê, weet die honde ook daar is kos en dan hardloop die hoender en honde om te sien wie eerste die kos kan kry.

“Sy is die grootste deel van die dag buite die huis, maar as sy inkom, lê sy soos die ander honde in die huis rond. Sy is ‘n tipe ‘loner’ en ek dink dit is daarom dat sy ons geselskap opsoek. Al die ander hoenders op die werf loop saam met een of meer henne of hane.”

Vorster sê alhoewel al die diere van nature veronderstel is om vyande of selfs kos vir mekaar te wees, leef almal saam in harmonie.

“Ek is opgewonde om te sien as sy haar eerste eier in die huis lê. Dit is nie enige huisdier wat ontbyt ‘poop’ nie.”

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za