Hoekom glimlag jy so?

0
137

Baie meer mense loop deesdae met ‘n glimlag op die gesig, en ek kon nie verstaan hoekom nie. Dit tref my toe uit die bloute dat beleggers onlangs hul beleggingsportefeuljes se kwartaalstate ontvang het en klaarblyklik baie tevrede is met wat hulle sien.
Dit is net ‘n grappie, maar die eerste kwartaal van 2019 was voorwaar spesiaal vir enige belegger in ‘n markverwante belegging. Die JSE het met meer as 7% geklim sedert 1 Januarie tot einde Maart en dit maak die eerste kwartaal van 2019 die JSE se beste eerste kwartaal in 12 jaar.
Dié lopie is hoofsaaklik te danke aan mynbou-aandele, maar daar is ook ‘n aantal ander aandele wat hul kant gebring het. Met die skryf van vandeesweek se rubriek het die JSE op 57 830 punte gestaan, wat nog ‘n hele entjie weg is van die rekordvlak van 61 685.
Vir vuisvoosbeleggers was die laaste kwartaal ‘n bietjie van ‘n welverdiende meevallertjie. Natuurlik het baie dinge lank reeds daarop begin dui dat markte wêreldwyd enige tyd moet begin herstel. Moet egter nie te veel in die laaste kwartaal se prestasie lees nie.
Daar is heelwat positiewes wat uit die eerste kwartaal uitgehaal kan word, maar natuurlik is daar ook heelwat onsekerhede wat nog nie opgeklaar het nie, en die geagte meneer Donald Trump het steeds die hef in die hand wanneer dit by jou belegging se welstand kom.
Kom ons hoop Brexit draai positief uit, dat die VSA en China ‘n blywende handelsooreenkoms in albei se belang bereik, dat China se ekonomiese groei begin optel en dat Donald Trump in 2019 bietjie rustiger is.
As ek net paar van die syfers uit die mark kan aanhaal, lyk dit so: die JSE- algehele indeks het vir die eerste kwartaal 7.97% opgelewer, te danke aan die hulpbron-indeks wat 17.85% vir die eerste kwartaal gelewer het. Selfs plaaslike effekte het ‘n heel skaflike 3.81% vir die eerste kwartaal opgelewer.
Plaaslike eiendomsaandele sukkel steeds, maar het darem dié kwartaal op ‘n positiewe 1.45% afgesluit. Kom ons hoop die momentum bly behoue en dat ons teen Kersfees steeds kan glimlag. – Horace Terry
horace@nasaux.com