Ons ervaar tans erge wisselvalligheid op die finansiële markte en beleggers is met reg senuagtig wanneer hulle die waarde van hul beleggings van dag tot dag sien rondspring.
Vir baie beleggers is dié wisselvalligheid net te veel, en drastiese skuiwe op beleggingsportefeuljes word oorweeg.
Hoewel jy heelwat meer rustigheid op ‘n vasterente-belegging sal ervaar, en hoewel ‘n skuif na ‘n vasterente-belegging na die regte skuif lyk, is dit die verkeerdste ding om te doen, heeltemal op die verkeerde tyd.
Wanneer jy in ‘n markverwante belegging belê, moet jy ook die nodige kopskuif maak en jou belegging verstaan. Met kopskuif bedoel ek dat jy jou belegging soos ‘n bate moet hanteer, en nie soos geld nie.
Baie beleggers maak deesdae die opmerking dat hulle reeds soveel en soveel geld op hul belegging verloor het. Die stelling is verkeerd, want jy het nie meer geld nie. Toe jy jou geld belê het, is dit gebruik om eenhede (‘n bate) in ‘n beleggingsfonds te koop. Jy het dus tans geen geld nie, maar ‘n bate in die vorm van eenhede in ‘n beleggingsfonds/e.
Wanneer negatiewe marktoestande toeslaan, verloor jy dus nie geld nie; die prys van jou bate (eenhede) neem af. Jou bate (eenhede) word ook nie minder nie, dit word net goedkoper, en dit alles net op papier. As jou huis se waarde skielik weens rentekoerse of ‘n swak eiendomsmark ‘n paar honderd duisend rand val, gaan jy dit tog nie so gou moontlik verkoop nie. Jy gaan rustig wees, met die wete dat siklusse sal draai, en dat jou eiendom se prys sal herstel.
Hoekom dan jou belegging anders hanteer? Wanneer marktoestande op hul slegste is, verkoop beleggers uit hul markverwante beleggings en koop in op vasterente-beleggings. Jy gaan verkoop dus jou bate (eenhede) vir winskopie aan iemand anders, en jou papierverlies word ‘n werklike verlies.
Dié verlies gaan jy ook nooit weer terugmaak nie, want jy gaan nie in die markverwante belegging wees wanneer markte draai nie. Jy gaan dus ‘n permanente agterstand hê. Jy moet dus eerder die persoon wees wat iemand anders se winskopie tydens negatiewe marktoestande koop en sodoende jou bate (eenhede), waarvan die waarde met tyd sal ontsluit, uitbrei teen ‘n goeie prys. Praat dus eers met jou finansiële beplanner voor drastiese skuiwe gemaak word.
Horace Terry
horace@nassaux.com.