Hoe veilig is ‘n bloedoortapping?

0
6272

Maricelle Botha

’n Bloedoortapping is ’n relatief eenvoudige mediese prosedure waartydens ’n pasiënt volledige bloed of slegs gedeeltes daarvan deur ’n intraveneuse lyn ontvang. Hoewel dit vir baie volwassenes glad nie ’n traumatiese ervaring is nie, verander die situasie aansienlik as dit jou paar maande oue baba is. Waar kom die bloed vandaan? Siende dat kinders nie bloed mag skenk nie is dit nodig dat bloed wat deur volwassenes geskenk word geprosesseer word vir gebruik in babas.

Elke eenheid bloed wat geskenk word, word getoets om die bloedsoort te bepaal of om ’n ongewone teenliggaam-groepering vas te stel, asook vir MIV, hepatitis B en C en sifilis. Die mees gesofistikeerde toetse wat beskikbaar is word gebruik om die veiligheid van die bloed te bepaal. Dit is so dat nuwe skenkers se rooibloedselle nie gebruik word nie. Hul plasma word in kwarantyn geplaas tot hul tweede skenking. As al die toetse weer negatief is, sal die plasma gebruik word. ’n Volwasse eenheid rooibloedselle is ongeveer 300ml en plasma ongeveer 220ml.

Die sogenaamde “Babypacks” is ongeveer 75ml. Een skenking se rooibloedselle kan volgens Irene van Schalkwyk, bemarkingskonsultant van die Suid-Afrikaanse Bloeddiens, verwerk word in drie babaprodukte (A-, B- en C-subeenhede). “Indien babas herhaalde transfusie benodig en die geneesheer SANBS daarop atent maak, sal die Bloedbank altyd poog om die A-, B- en C-subeenhede wat so gemaak word te reserveer vir ’n spesifieke baba sodat die baba eerder een skenker se bloed ontvang as drie aparte skenkers s’n. Alle babaprodukte in Suid-Afrika word ook gefiltreer om witbloedselle te verwyder,” sê sy. Van Schalkwyk sê dat leukosiete (witbloedselle) geassosieer word met sekere newe-effekte in babas en jong kinders en die gebruik van leukofiltreeerde rooiselle word vir alle kinders onder die ouderdom van 1 jaar aanbeveel.

Premature babas kry gereeld bloed. Dit staan bekend as “top-up”-transfusie. Babas wat gebore word met hemolitiese siekte van die pasgeborene (as gevolg van die feit dat die moeder en baba se bloedgroepe onverenigbaar is), is ook dikwels erg anemies en benodig dan rooisel-transfusies. In die res van Afrika (veral sentraal- en Oos-Afrika) is malaria-infeksies die grootste rede vir bloedtransfusies vir babas.
Mense wat meer oor bloedoortappings wil weet of wil bloed skenk, kan www.sanbs.org.za besoek of 0800-119-031 bel vir meer inligting oor hul naaste bloedbank.