Hoe ‘sluiting’ van VSA-regering jou raak

0
195
Photo: CNBC.com

Die VSA se federale regering is reeds gesluit (sogenaamde “government shutdown”) sedert 22 Desember 2018, en met die skrywe van dié rubriek was dit steeds gesluit.

Sedert 1981 was die Amerikaanse regering al 13 keer gesluit, maar die huidige sluiting is die langste in die geskiedenis. Die VSA se fiskale jaar begin jaarliks op 1 Oktober, waarná die Amerikaanse kongres befondsing vir die 12 regeringsdepartemente moet goedkeur en die president dit dan moet afteken (die president het ook ‘n vetoreg).

Indien die kongres nie die befondsing, met die president se handtekening daarop, goedgekeur kan kry nie, gaan die Amerikaanse regering in ‘n sluiting (shutdown) in, en die sluiting kan voortduur totdat ooreenstemming bereik kan word.

Natuurlik weet ons teen die tyd dat die kwessie wat tot die huidige sluiting lei, die muur is wat Donald Trump op die VSA/Mexiko-grens wil bou. Trump soek $5.7 miljard om die muur te bou en die kongres wil dit nie goedkeur nie. Gegewe die omvang van die Amerikaanse begroting, is $5.7 miljard eintlik ‘n weglaatbare klein bedrag, maar dit het nou ‘n politieke speelbal geword tussen die Republikeine en Demokrate.

Tans is daar 800 000 staatsamptenare wat nie hul salarisse ontvang nie en ‘n verdere 1.2 miljoen kontrakteurs wat ook nie hulle vergoeding ontvang nie. Amptenare wat nie-noodsaaklike dienste lewer, hoef nie op te daag vir werk nie, terwyl die wat noodsaaklike dienste lewer egter by die werk moet wees.

Sodra die sluiting agter die rug is, sal die staatsamptenare terugwerkend hul salarisse kry, maar nie die kontrakteurs nie. Eintlik sal die impak van die hele sluiting nie te erg wees vir die Amerikaanse ekonomie nie, en na verwagting sal ekonomiese groei met 0.13% daal vir elke week wat die regering gesluit is.

Indien die sluiting voortduur tot middel-Februarie 2019, sal die Amerikaanse ekonomie 0.80% inboet op sy groei en omtrent die helfte van dit sal teruggewen kan word sodra die 800 000 staatsamptenare hul agterstallige salarisse ontvang. Alles is dus eintlik maar Amerikaanse politiek, en vir my en jou sal die lewe aangaan soos normaal.
Bron. Anchor Capital

horace@nassaux.com