Hoe raak die 2016-begroting jou sak?

0
2833
Minister van finansies, Pravin Gordhan.

Die 2016-begrotingsrede is gelewer en daar is reeds baie daaroor gesê, maar wat is die effek op jou huishoudelike begroting?
Soos gewoonlik, het die minister van finansies gepoog om met die begrotingsrede verligting vir die armes, of minder gegoede lede van die gemeenskap te bewerkstellig, net om die “rykes” aan die ander kant swaarder te belas (of te straf).
Daar is in die begrotingsrede voorsiening gemaak vir inflasie. Aanpassings is daarvoor gemaak in die inkomstebelastingtabelle. Die 18%-skaal sal dus strek van R0 tot R188 000 per jaar teenoor die vorige jaar se R0 tot R181 000. Almal wat R701 301 of meer per jaar verdien sal in die 41%-skaal val, dieselfde as die vorige jaar. Daar is ook aanpassings gemaak ten opsigte van belastingdrempels. Persone jonger as 65 se drempel is gelig van R73 650 na R75 000. Vir dié tussen 65 en 74 is die drempel gelig van R114 800 na R116 150, en vir dié van 75 en ouer is die drempel van R128 500 na R129 850 gelig. Die sondaars onder ons word ook (weer) gestraf met ‘n verhoging in die aksynsbelasting op drank en sigarette/tabak. Die drank wat oor die algemeen verbruik word, soos bier, se prys sal met 11c per blikkie verhoog. Wyn sal 27c per 750ml-bottel duurder word en sterk drank word R3.94 per 750ml-bottel duurder. Die prys van sigarette sal met 82c vir ‘n pakkie van 20 styg.
Dan is daar ‘n nuwe belasting, gemik op die soettande onder ons. Vetsug is ‘n probleem. Vetsug lei tot allerlei siektes, spesifiek hartsiektes, diabetes en kanker. Vetsug en die meegaande siektes lei gevolglik tot onproduktiwiteit, iets wat Suid Afrika nie kan bekostig nie. Gegewe bogenoemde het die minister voorgestel dat suikerversoete drankies belas moet word vanaf 1 April 2017.
Natuurlik, of waarskynlik, sal die belasting aan die einde van die dag uitgebrei word na alle produkte wat suiker bevat. Die wat ‘n belastinggids en eenvoudige verduideliking van die begrotingsrede verlang, kan vir my ‘n e-pos stuur na horace@nassaux.com. – Horace Terry