Hoe om jou beleggingsopsie te kies

0
946

HORACE TERRY

Om ‘n beleggingsportefeulje saam te stel is maklik. Jy kies ‘n paar beleggingsfondse en daar gaan jy. Om ‘n kwaliteit- beleggingsportefeulje saam te stel, wat met tyd goeie opbrengste lewer met berekende beleggingsrisiko en ‘n geregverdigde fooi-struktuur is egter iets heeltemal anders. Om ‘n kwaliteit-beleggingsportefeulje te kan saamstel neem heelwat beplanning en navorsing rondom die beskikbare beleggingsfondse en finansiële markte.

En natuurlik moet die kombinasie van beleggingsfondse wat gebruik word so gestruktureer word dat jy as belegger ten minste ‘n mate van beskerming kan geniet in ongunstige marktoestande, maar ook bevoordeel kan word in gunstige marktoestande. Daar is ‘n paar strukture of strategieë wat gevolg kan word. Jy kan, as jy dapper genoeg is, al jou geld op ‘n enkele beleggingsfonds belê. Dis nie verkeerd as jy ‘n klein bedraggie het wat jy iewers wil sit vir groei nie, maar vir groter bedrae moet jy dalk twee keer dink. Tweedens, kan jy of jy en jou finansiële beplanner gaan sit en ‘n aantal beleggingsfondse uit verskillende kategorieë by verskillende batebestuurders selekteer en dan die geld soos nodig allokeer tot die beleggingsfondse. Dis dan net belangrik dat julle ook gereeld bymekaar moet kom om die portefeulje te herbalanseer in lyn met ekonomiese en markverwagtinge.

Dan is daar die opsies waar jy eerder die besluite rondom die keuse van beleggingsfondse en bate-allokasie oorlaat aan ‘n professionele span wat jou portefeulje sal gaan saamstel en reg struktureer, in lyn met ekonomiese en markverwagtinge. Verder sal die span jou portefeulje bestuur en herbalanseer soos nodig om dit in lyn te hou met ekonomiese en markverwagtinge. In so geval sal jy gewoonlik gebruik maak van ‘n Saamvatfonds (Wrap Fund) of ‘n Fonds van Fondse. Dis gewoonlik jou duurder opsies, maar bied baie meer voordele en beskerming as die ander opsies. Soos gewoonlik is daar nie ‘n reg en verkeerd nie. Verstaan die implikasies en risiko’s van jou opsie en maak seker jy is gemaklik daarmee. Ek sal in die volgende paar weke die verskillende opsies soos hierbo genoem in meer detail bespreek.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.