Servaas de Kock
Ek het al hoeveel keer in gesprekke gehoor mense kla oor die batterylewe van slimfone en gewonder hoe lank (in minute) bring ’n mens gemiddeld op ’n slimfoon deur. Ek het op ’n baie interessante stukkie navorsing deur Experian afgekom oor die hoeveelheid tyd wat gebruikers op slimfone spandeer en hoe die tyd geallokeer word. Dit is ’n Amerikaanse studie, maar ek dink dit het baie waardevolle inligting wat vir seker bepaalde gebruikerspatrone uitlig.
Volgens die studie gebruik ’n gemiddelde gebruiker daagliks ’n slimfoon vir 58 minute. Dit is amper ’n uur daagliks. Wat baie duidelik uitstaan, is dat ’n foon nie net meer ’n toestel is waarmee gebel word soos in die verlede nie, maar dat dit vir soveel ander funksies aangewend word. Die 58 minute word verdeel in die volgende kategorieë: 26% vir gesels, 20% vir teks of BBM, 16% vir sosiale netwerke, 14% vir die besoek van webtuistes, 9% vir e-pos, 8% vir speletjies en 9% vir ander. Ek was nogal verbaas om te sien hoe laag die geselskategorie is en hoe dominant teks en sosiale netwerke is. Die realiteit is, slimfone word al hoe meer gebruik deur mense om met mekaar kontak te maak op verskeie platforms, eerder as net slegs ’n tradisionele foon.
Ek voorsien dat die gemiddelde gebruik steeds gaan toeneem soos wat tegnologie ontwikkel. Indien jy ’n gebruiker is wat nog nie ’n slimfoon het nie, is dit miskien nie ’n slegte idee om na een te gaan kyk nie.
*De Kock is die algemene bestuurder van Digital Platforms, webtuiste en ontwikkelingspesialiste.