Hoe Gutenberg die brilbedryf laat groei het

0
705

“As jy Bill Gates, Steve Jobs en Mark Zuckerberg sou kon kruis,” het ek altyd vir my studente vertel, “dan het jy nog nie eens naby die Held van die Middeleeue gekom nie.”
As hulle my dan skaapagtig aangekyk het, het ek dramaties ‘n groot prent van ‘n man met ‘n lang baard en ‘n vreemde mus op sy kop op die skerm gewys. “Hy het meer as enigiemand anders die wêreld verander,” sou ek eerbiedig fluister. En dan sou ek uitroep: “Dames en Here: Johannes Gutenberg!”

Ek het nog altyd groot respek vir die vader van die drukpers, die man wat die wye wêreld aan die lees gekry het, gehad. Maar ek het eers onlangs gelees (let wel) van ‘n ander gevolg van Gutenberg se uitvindsel, ‘n nadraai wat selfs meer omvattende implikasies vir die mensdom sou hê as die gedrukte boek.

Die joernalis en skrywer, Steven Johnson, vertel in sy boek oor die geskiedenis van innovasie, How We Got To Now, op pakkende wyse van die ontdekking van glas en hoedat glas as ‘n onontbeerlike hulpmiddel vir die mens veel meer as net ‘n hupstootjie sou kry met die ontdekking van die drukpers.

Hoe op aarde bring ‘n mens Gutenberg en glas by mekaar uit? Dis doodeenvoudig. Toe die wêreld op groot skaal begin lees, was een probleem gou duidelik: Lesers kon nie op die klein lettertjies fokus nie. Die grootste deel van die mensdom in die Middeleeue was versiende! En so ontketen die rewolusionêre drukpers ‘n parallelle geskiedenis, die ontwikkeling van die lens. Binne enkele dekades nadat Gutenberg sy eerste Bybel in 1455 gedruk het, skiet brilbesighede soos paddastoele op. ‘n Skamele honderd jaar na Gutenberg, is daar duisende lensmakers orals oor Europa. Brille word die eerste vorm van ontwikkelde tegnologie wat gewone mense aan die lyf dra.

Dit was net ‘n hanetreetjie van die bril af tot by die mikroskoop, die teleskoop en die kamera. Na ‘n stadige skuifelpas, wat millennia geduur het, het die wêreld van die wetenskap oornag in ‘n wilde galop oorgegaan.
Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Albé Grobelaar