In die derde artikel oor mondgesondheidsmaand, kyk ons na goeie mondhigiëne by kinders. Goeie mondgesondheidsgewoontes word as kind aangeleer en daarom is dit belangrik dat ouers al van die baba se geboorte af met goeie mondsorg begin. Al het die baba nog nie tande nie, kan die tandvleis met ’n klam lappie gevee word om bakterieë te verwyder en om hulle gewoond te maak aan die sensasie. Met die koms van die eerste tand, moet die tandjies met ’n klam lappie afgevee word of versigtig geborsel word.
Dit kan deel vorm van badtyd. Daar is oulike “vingerhoed tandeborsels” op die mark vir babas. Soos hulle groter word, kan kinders eers self borsel en speel, maar die ouer moet altyd nog finaal borsel of toesig hou tot op die ouderdom van sewe jaar. Onthou om twee keer per dag te borsel. Bottel Karries Sindroom is tandbederf wat veroorsaak word as die baba die heeltyd suig aan ’n bottel wat vrugtesap, melk of tee in het, of met so ’n bottel aan die slaap raak. Onthou dat jou baba nie weet van suiker nie, totdat jy dit aan hom bekendstel.
Probeer om vloeistowwe wat suiker bevat vir so lank as moontlik te vermy om sodoende tandbederf te voorkom. Dit kan wel met maaltye gegee word in ’n bekertjie. Sommige kinders word met ’n tand gebore en ander het nog geen tande tot op een jaar nie, so dit verskil van kind tot kind. Die meeste kinders kry hul eerste melktand op ses maande en sal teen twee en ’n half jaar al hul melktande hê. Daar is 20 melktande.
Op sesjarige ouderdom verskyn die eerste permanente kiestande en dan begin die eerste melktande ook wissel. Kinders wissel gewoonlik hul laaste tand op twaalf. Dit is onaanvaarbaar as die kind nog ’n fopspeen of duim suig op twee jaar, maar die gewoonte moet definitief teen vier jaar gestaak wees om ’n oop- of kruisbyt te voorkom. Kinders moet al van tweejarige ouderdom vir hul eerste besoek by die tandarts gaan. Só kan probleme vroegtydig aangespreek word en raak die kind gewoond aan die nuwe omgewing. Positiewe ingesteldheid van ouers kan bydra tot mooi, gesonde melktande van hul kinders.
Die artikel is geskryf deur Maureen Vorster van Medicross (051-406-0254)