RUFUS BOTHA
Twee van die Vrystaat se voorste langasems, Dumisane Hlaselo (Kovsies) en Annah Moeketsi (Transnet) het verlede Woensdag by Sportsmans Warehouse se jaarlikse straatmylbyeenkoms by Grey-kollege gerieflike oorwinnings in onderskeidelik die seniormans- en seniorvroue-wedlope behaal.
Hlaselo, wat sedert 2008 die Suid-Afrikaanse junior rekordhouer (3:38,15) in die 1500m is, het die genoemde mylwedloop gerieflik in 4:11 gewen. Sy tyd steek egter erg af by die byeenkomsrekord van Johan Cronjé wat in 2013 ‘n skitterende rekord van 4:04 daargestel het.
Cronjé was teenwoordig by verlede week se byeenkoms, maar het nie deelgeneem nie. Hy het kort voor die byeenkoms ‘n oogoperasie ondergaan en het diens gedoen as afsitter van die senior wedlope.
Hlaselo is gevolg deur die puik 800m-atleet van die Kovsies, Rynardt van Rensburg (4:15) en nóg ‘n Kovsie, Jan-Willem Ras (derde, 4:22).
Moeketsi het in die vrouewedloop ‘n haastige 5:15 vir haar oorwinning aangeteken. Rizani van Aswegen (Kovsies, 5:33) het tweede geëindig in dié afdeling, maar sy was nie algeheel in die tweedeplek nie.
Teresa Richards, wat die afdeling vir veteraanvroue gewen het, het algeheel tweede oor die eindstreep onder die skoner geslag gehardloop en was agt sekondes na Moeketsi. Richards het die wedloop aangedurf slegs ‘n paar dae nadat sy die wêreldtitel in die seniorvroue-afdeling in biatlhe in Suid-Amerika gewen het.
Die derdeplek in die seniorvroue-mylwedloop het gegaan aan Claire Cronjé (Kovsies, 5:45). Claire is Johan Cronjé, hierbo genoem, se vrou en was as junior atleet een van Suid-Afrika se voorste 800m-atlete. Sy het onder meer die bronsmedalje in die 800m vir meisies onder 19 by die Suid-Afrikaanse skole-atletiekkampioenskap ingeoes.
Atlete van die Hoërskool Louis Botha het oudergewoonte amok gemaak in die afdelings vir hoërskoolseuns. Kgotsofalo Kwalane (4:53), Mpumelelo Mdi (4:29) en Armin Fillies (4:29) het vir Louis Botha oorwinnings behaal in die seuns o.15-, o.17- en o.19-wedloop. Louis Botha se atlete het boonop die eerste drie plekke in die seuns o.15- en o.19-wedloop ingeneem en ook die eerste twee plekke in die seuns o.17-afdeling.
Die ander wenners is:
Seuns: o.11: Marko-Mike van den Berg (Willem Postma, 5:55), o.13: Gean Viljoen (Willem Postma, 5:40).
Mans: Veterane: Wikus Vorster (Kovsies, 5:09), Meesters: Danie Cronjé (Kovsies, 5:54).
Meisies: o.11: Erin Clarke (Tempe tekkies, 6:13), o.13: Nadine Kemp (Oranje, 5:45), o.15: Mizan Viljoen (5:38), o.17: Marjoné Human (Oranje, 6:04), o.19: Ezanne Kleynhans (Kovsies, 5:54).
Vroue: Meesters: Sunet Nicolaisen (Individueel, 7:43).