Baie warm en droë weerstoestande duur ongelukkig voort in groot dele van die Vrystaat en Noordwes die volgende week met ‘n geringe kans op reën teen volgende week. ‘n Weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, Sihle Kunene, sê ‘n hittegolf sal na verwagting tot môre in die suidelike deel van die Vrystaat woed, wat Wepener en Fauresmith insluit. Die kwik gaan in dié gebied tot 37°C en hoër styg. Teen die naweek word koeler toestande in die suidelike deel van die Vrystaat en die Noord-Kaap verwag.
Kunene sê die kwik kan aansienlik met tussen 4°C en 5°C in die Noord-Kaap daal weens ‘n kouefront wat op pad is. Hy sê temperature kan in die res van die Vrystaat en Noordwes ietwat afneem, maar dit gaan steeds bloedig warm wees met bewolkte toestande die naweek in die sentrale deel van die provinsie.
Kunene sê geen reën word vir die sentrale deel van die Vrystaat dié naweek voorspel nie. Teen Woensdag is daar ‘n 30%-kans op reën vir die hele Vrystaat. Droogtetoestande duur voort. – Christal-Lize Muller