GEORG VAN ECK
Hilton Rolbalklub in Bloemfontein rol nie net balle nie. Die klub het vanjaar weer ingespring om kos vir die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) in te samel met ’n jaarlikse Halloween-partytjie, wat by die klub in Andries Pretoriusstaat aangebied is. Gaste wat die gewilde Halloween-partytjie bygewoon het, het nie kaartjies gekoop of toegang betaal nie. Die enigste toegangsvoorwaarde was dat almal troeteldierkos of ander benodighede skenk.
Aan die voorpunt van die veldtog was die Roets-skoonsusters, Jackie en Natasha, wat onderskeidelik met Zane en Clinton Roets getroud is. “Ons het drie keer meer kos as verlede jaar ingesamel en vanjaar het ons ook R2 200 in kontant ontvang danksy donateurs soos Brian Smythe en ander mense, wat anoniem wil bly,” het Natasha vertel.
Gelukkig het Joy van den Berg en Reinet Meyer, onderskeidelik die bestuurder en inspekteur van Bloemfontein se DBV, met ’n bakkie by die klub opgedaag om die skenking in ontvangs te neem, want daar was meer as ’n bakkievrag kos deur die ywerige Hilton Rolbalklub oorhandig. Sakke honde- en troeteldierkos asook blikkieskos was van die gewildste skenking. Dit het verskeie tafels in die klub volgestaan. “Sommige mense het direk groot sake kos by die DBV gaan aflewer,” verduidelik die Roets-skoonsusters.
Vir die DBV is die skenking goud werd, want einde November, Desember en Januarie is die tydperk wanneer baie verwaarloosde troeteldiere deur die DBV ingeneem en versorg moet word.
Byna die hele Roets gesin, wat ook Christo, Hilton se kompetisie-sekretaris, insluit, is voorslagspelers by die klub en van hulle het al hul slag op provinsiale en internasionale vlak uitgestal.
Jackie en Zane Roets het intussen ook ’n klein weeskind van die DBV aangeneem en Spike, ’n klein Herdershond-kruising, was aan ’n leiband by toe die skenking oorhandig is. Die jaarlikse Halloween-partytjie van Hilton Rolbalklub is nou só gewild dat die Roets-skoonsusters glo hulle gaan aanstaande jaar nog beter vaar.