Die virus wat papegaaie doodmaak – wat lei tot die dood van ‘n geliefde troeteldier, wat wilde inheemse bevolkings affekteer, of wat ‘n ernstige gevaar vir die lewensvatbare teelbedryf inhou – is besonder hardnekkig. Hierdie geharde virus, wat veral dodelik is vir jong voëls, kan vir tot ses maande oorleef en is baie moeilik om te beheer omdat dit nie in ‘n laboratorium gekweek kan word nie. Dit is op verskeie maniere soortgelyk aan die Menslike Immuniteitsgebreksvirus (MIV), met ewe veel probleme om ‘n entstof of kuur daarvoor te vind.
Daarom het ‘n deurbraak in die beheer van die Snawel- en Veersiektevirus (BFDV) by papegaaie ‘n deur oopgemaak vir die potensiële beheer van verskeie ander siektes. ‘n Eksperimentele entstof vir hierdie papegaaisiekte het ‘n proses ontbloot wat belangrike implikasies vir menslike siektes kan hê.
BFDV veroorsaak ernstige probleme in Suid-Afrika, nie net vir talle voëltelers nie, maar ook vir inheemse papegaaispesies. Die virus val die immuunstelsel van die voël aan en is veral dodelik vir jong voëls. Suid-Afrika se winsgewende teel- en uitvoermark in jong papegaaie word ernstig geraak deur hierdie siekte, met aansienlike finansiële verliese. Suid-Afrika se endemiese wilde Woud-papegaai staar uitwissing in die gesig weens ‘n kombinasie van hierdie siekte en ‘n verlies aan habitat.
BFDV kan nie in die laboratorium gekweek word nie. Daarom is daar nie normale en maklike opsies vir siektebeheer beskikbaar nie.
Die bestudering van BFDV is reeds vir baie jare ‘n vlagskipprojek van die Veeartsenybiotegnologie-navorsingsgroep aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en daar is reeds baie vordering gemaak – maar geen entstof en geen kuur nie. Dit was totdat me Charlotte Boucher, personeellid en PhD-student, Frankryk verlede jaar besoek het om ervaring op te doen in nuwe molekulêre tegnologie. Hierdie ervaring het tot ‘n belangrike deurbraak gelei – ‘n eksperimentele entstof vir BFDV.
Hierdie is nie die eerste entstof wat deur die Veeartsenybiotegnologie-navorsingsgroep vir die virus ontwikkel word nie. Dit was egter onmoontlik om die vorige entstowwe in grootmaat te produseer wat nodig was vir die mark,
omdat dit te duur en te moeilik was om te vervaardig. Hierdie nuwe eksperimentele entstof is maklik, goedkoop en vinnig om te vervaardig. Die universiteit is tans in die finale veiligheidstoetsstadium vir hierdie nuwe eksperimentele entstof en dit behoort binne ‘n paar maande afgehandel te wees.
Dit is egter nie die ontwikkeling van die entstof wat ‘n veer in die hoed van die Veeartsenybiotegnologie-navorsingspersoneel is nie. Die proses wat gebruik is om die entstof te ontwikkel, kan gebruik word vir ander virusse met soortgelyke karaktertrekke as die van BFDV, soos voëlgriep, H1N1, SARS, en selfs MIV. Hierdie proses kan ook gebruik word vir die ontwikkeling van entstowwe teen bakterieë.
“As ‘n mens kyk na wat ons tot dusver bereik het met hierdie onkweekbare virus,” sê spanleier prof. Robert Bragg, “dink net wat ons met ander siektes kan doen. Ons het reeds ons werk uitgebrei en het aansienlike vordering gemaak met die ontwikkeling van ‘n spesifieke entstof teen Aviêre patogene stamme van Escherichia coli vir pluimvee. Hierdie tegnologie vind nie net toepassing op veeartsenykundige gebied nie, maar kan ook beduidende betekenis hê vir menslike geneeskunde.”
Die universiteit is besig om hierdie proses te patenteer. Die Veeartsenybiotegnologie-navorsingsgroep beplan om ‘n “Entstofontwikkelingsplatform” tot stand te bring wat ‘n belangrike rol kan speel in die potensiële beheer van ‘noodsiektes