Hier kry elke dier ’n nuwe begin

0
2754
Suzanne met José (links) en Clara. FOTOS: PIERCE VAN HEERDEN

Sedert 2013 is talle diere van die strate af gered en kon hulle by New Beginnings ‘n liefdevolle tuiste kry. Ses jaar later word daar steeds wonderlike werk gedoen deur dié nie-winsgewende organisasie.

Bloemfontein Courant het die sentrum besoek om meer uit te vind oor hierdie veilige hawe vir diere.

“Ons is ‘n organisasie wat by die groot probleem begin en daaraan begin werk om langtermyn-veranderinge en -resultate te sien,” vertel Suzanne Peterson, aannemingskoördineerder.

Die organisasie huisves tans 32 honde, 10 katte en ‘n varkie en het ten doel om hoop en hulp aan eienaars en troeteldiere in nood te bied.

Jojo se herstel is bewys van die wonderlike werk
wat New Beginnings doen.

Nie net het die organisasie al honderde diere suksesvol gerehabiliteer en ‘n nuwe tuiste gebied nie, maar ook baie van die diere gesteriliseer en hulp gegee aan huishoudings in die gemeenskap.

“Ons help om verandering in die gemeenskap te bring, nie net deur ons gereelde gemeenskapsuitreike en jaarlikse Kersfeesprojekte nie, maar ook deur redding en rehabilitasie van behoeftige, mishandelde, verwaarloosde en verhongerde troeteldiere,” sê sy.

Asof dit nie genoeg is nie, het die organisasie ook ‘n groente- en vrugtetuin sodat hulle wanneer hulle na diere omsien, ook vir van die eienaars in minderbevoorregte gebiede iets te ete kan neem.

Hamlet, die eenoorvarkie wat deur New Beginnings gered is.

Tydens Bloemfontein Courant se besoek aan die organisasie, het dit behoorlik gelyk asof van die diere wat gered is ‘n ‘glimlag op hul gesiggies’ het.

Die hokke is netjies, met genoeg ruimte en speelplek, hulle het hul eie plastiekswembadjie vir die somer om in af te koel en kry genoeg liefde en aandag.

“New Beginnings is nie net ‘n veilige hawe vir mishandelde honde nie, maar is die plek wat aan die dier weer ‘n kans gee om gelukkig te wees,” het Peterson verduidelik.

Vrywilligers kan enige tyd by New Beginnings betrokke raak en van hul tyd afstaan om met die diere te gaan speel of te gaan stap.

Vir meer inligting en om hulp aan New Beginnings te bied via donasies of betrokkenheid, of om ‘n dier aan te neem, kontak gerus 072-636-6663. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za