Heymans dankbaar vir tweede kans

0
2373
Liane Heymans (25)

Liane Heymans (25), ’n fisioterapeut van Bloemfontein, het nooit gedink dat sy 18 minute voor haar 25ste verjaardag in ’n hospitaalbed sou lê met ’n gebreekte sesde nekwerwel en baie min gevoel in haar lyf nie.

Sy het ook egter daar en dan besluit dat sy gaan aanhou bid en glo, en haar kennis as fi sioterapeut gebruik om haar rustig te maak. Heymans het aan Bloemfontein Courant vertel hoedat sy en haar kêrel, Leon Petzer, Oujaarsaand sou oorslaap by die Gariepdam-oord en haar verjaardag op 1 Januarie daar sou vier.

Sy het besluit om te gaan swem, in ’n vlak swembad geduik en haar sesde nekwerwel gebreek. Sy is toe per ambulans na Mediclinic Bloemfontein gejaag waar sy op haar verjaardag ’n vyf uur lange noodoperasie ondergaan het om die sesde nekwerwel te herstel. Sy het wakker geword met die nuus dat sy moontlik van die skouers af verlam sou wees, maar die feit dat sy groot planne gekoester het om mense te help en pasiënte te bemoedig het gemaak dat sy nie sommer daardie boodskap wou aanvaar nie.

Nou, meer as drie maande ná die ongeluk, toon Heymans al spierfunksie in haar arms, hande en maag en werk steeds dag en nag om te verseker dat sy eendag weer die gebruik van al haar ledemate sal herwin. “Dit is alles deur die genade van die Here, die ondersteuning wat ek kry, en my eie wilskrag,” sê sy.

Die vasbeslote vegter verduidelik verder dat sy glo die Here het haar in hierdie posisie geplaas sodat sy teenoor ander mense kan getuig. Al het die ongeluk haar en haar familie se lewens verander, het dit tog hul verhouding sterker gemaak en ’n nuwe waardering gebring vir die klein dingetjies in die lewe en vir mekaar. Heymans sê dat sy so dankbaar is dat sy nou self kan eet, hare en tande borsel, op haar selfoon tik en haar eie grimering kan doen. Vir haar is die wilskrag van haar pa, die oud-rugbyspeler Dougie Heymans, ’n voorbeeld van hoe om elke dag daarna te streef om gemotiveerd te bly en vol te hou deur haar rehabilitasieproses.

Volgens Heymans kan sy nie wag om weer in die buitelug op die plaas in Smithfield te wees nie, vleis te braai en op die stoep te sit nie. Haar familie het ’n trustrekening oopgemaak waarin fondse geskenk kan word om Liane te help om voldoende tyd in die rehabilitasiesentrum deur te bring.

Mense wat ’n skenking wil maak, kan Dougie kontak by 082-825-1376, of Leon by 066-230-0093. “Ek glo die wiel draai nie net wanneer dit by slegte goed kom nie, maar ook vir goeie dinge. Ek kan in die toekoms weer ander help met fi sio of deur ’n rolstoel te skenk,” sê Heymans.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za