Het jy regtig versekering nodig?

0
Het jy regtig versekering nodig?

Horace Terry

Het ek regtig al die versekering nodig? Sou dit nie beter wees om die geld wat ek op versekering spandeer eerder te spaar en dan veel meer met aftrede te hê nie? Dit is ‘n vraag wat ek weekliks deur kliënte gevra word. Natuurlik is dit ‘n vraag wat ek nie korrek sou kon beantwoord nie, tensy ek ‘n kristalbal het waarmee ek kan sien wat in die toekoms voorlê. Wat ek wel kan sê is dat almal liefs ‘n mate van lewensversekering behoort te hê na gelang van jou behoeftes, aangesien almal een of ander tyd moet sterf. Moet jy egter versekering hê teen ongeskiktheid of gevreesde siektes, of moet jy korttermynversekering uitneem vir jou motor, huis en huisinhoud? As jy my dié vraag sou vra, gaan ek eers vir jou vra of jy ongeskik verklaar gaan raak, ‘n gevreesde siekte gaan opdoen, jou motor gesteel gaan word of in ‘n ongeluk beskadig gaan word.

Jy gaan my waarskynlik antwoord dat jy nie weet of enige van die dinge jou gaan tref nie. My antwoord sou dan wees dat dit waarskynlik wys sou wees om jou dan te verseker teen dié gebeurtenisse, aangesien enige van hierdie dinge die potensiaal het om jou finansieel te ruïneer. Verder gaan jy ook nie alleen geruïneer word nie, jou afhanklikes gaan saam jou daaronder ly. Op die ou end moet elke persoon self verantwoordelikheid neem van wat hy wil doen of nie wil doen nie.

Indien jy geen ongeskiktheidsdekking uitneem nie en die geld eerder spaar en jy is gelukkig genoeg is om deur die lewe te gaan sonder om ongeskik verklaar te raak, gaan jy ekstra voorsiening met aftrede hê. Maar, wat as? Wat as jy geen  ongeskiktheidsversekering het nie en jy word wel ongeskik verklaar, wat dan… So, weer eens dit is jou keuse waar jy in jou lewe die relevante risiko’s wil dra, of waar jy die risiko’s wil oordra na ‘n buiteparty soos ‘n versekeraar. Maak net seker jy deurdink jou opsies behoorlik en dat jy eers met ‘n kundige gesels.

* Terry is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Jenwil Blouster.

No posts to display