Het jou onderneming ’n webtuiste?

0
Het jou onderneming ’n webtuiste?

SERVAAS DE KOCK

Die grootste uitdaging vir medium- en klein ondernemings is om voordeel te trek uit die vinnig groeiende internet. Die internet is tans die vinnigste groeiende medium nasionaal en internasionaal. Baie eienaars wat medium- en klein ondernemings besit, is van mening dat die internet ’n mors van tyd is, nie aandag nodig het nie, en sodoende het baie min van hulle funksionele webtuistes.  ’n Webtuiste van ’n onderneming kan egter vergelyk word met ’n selfoon. Baie mense glo steeds daaraan om nie ’n selfoon te gebruik nie, maar die wat wel ’n selfoon gebruik, besef die waarde wat hierdie tegnologie wonder tot ’n mens se lewe toevoeg.

Dieselfde geld vir ’n webtuiste. Indien jy nie ’n webtuiste het nie, kan jy geensins meeding in die aanlyn-omgewing nie.  As ons kyk na ons eie gedrag, is dit duidelik dat soek-enjins op die internet soos Google, al hoe meer gebruik word. Google het ook ’n generiese term geword wat mens gebruik wanneer jy op soek is na omtrent enige iets. Miljoene mense gebruik die internet om produkte en dienste te soek en dan te bepaal of die handelaar wat dit verkoop geloofwaardig is, al dan nie. Indien ’n voornemende kliënt na ’n produk of diens gaan soek en jou nie op die web vind nie, is die moontlikheid groot dat hierdie kliënt by jou mededinger gaan eindig. Indien jy as besigheid geen aanlyn-sigbaarheid het nie, verloor jy sodoende elke dag potensiële besigheid.
’n Webtuiste bied ook die geleentheid aan voornemende kliënte om enige tyd van die dag of nag kontak te maak met jou handelsmerk.

Jou toeganklikheid verhoog wat sodoende lei tot groter geloofwaardigheid in die mark. ’n Webtuiste is verseker ’n moet vandag in besigheid!  Indien jy wel oorweeg om ’n webtuiste te kry vir jou besigheid, is dit belangrik om ’n geloofwaardige diensverskaffer te gebruik. Gaan kyk na die portfolio van webstuistes wat alreeds deur hulle ontwikkel is en praat met een of twee van die kliënte voor jy ’n besluit neem.

Servaas de Kock is die algemene bestuurder van Digital Platforms.

No posts to display