Polisiewoordvoerder, Molebogeng Lechesa, sê die ander verdagte, Isak Mokoena (25), wat Dinsdag in ‘n bank op Hertzogville in hegtenis geneem is, het gister vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn.
Mokoena was vermoedelik een van drie mans wat Giep Botha en sy vrou Miena verlede maand op hul plaas Albertsrus oorval en beroof het. Die aanvallers het Botha geslaan toe hy geweier het om die kluis vir hulle oop te maak. Die booswigte het toe ‘n hoekslyper gebruik om die kluis oop te sny. Miena is ook rondgepluk. ’n Pistool en ’n onbekende bedrag geld is gebuit.Die vasgebinde egpaar het ure lank in hul huis gelê.
Intussen word landelike gemeenskappe gemaan om deurentyd paraat te wees en meer betrokke te raak by bestaande, georganiseerde veiligheidstrukture wat daarop gemik is om gebiede te beveilig. Dit is die duidelike boodskap van die Hertzogville-landbouvereniging se veiligheidskoördineerder, Hannes de Jager, wat nou betrokke was met die identifisering en inhegtenisneming van die Botha-egpaar se vermeende plaasaanvallers.
De Jager, wat ook sy eie private ondersoek- en spoorsny-besigheid bedryf, sê kort nadat die egpaar op 12 Mei aangeval is, het van sy informante betrokke geraak en inligting oor die aanvallers bekom. Hy sê Dinsdag het van die opspoorders een van die vermeende aanvallers geïdentifiseer. Die verdagte is op Hertzogville in ‘n bank in hegtenis geneem, waarna ‘n tweede verdagte ook plaaslik by ‘n huis aangekeer is. De Jager sê gemeenskapsbetrokkenheid kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Hy vra gemeenskappe, dit sluit boere en gewone inwoners op dorpe in, om beskikbare veiligheidswenke ter harte te neem. Daar moet na mense wat uit ondervinding praat, geluister word. Volgens hom word daar op vergaderings wenke gegee oor hoe om pro-aktief te wees. Betrokkenes is dan positief, maar sodra hulle die vergadering verlaat, gebeur daar niks.
Lechesa sê Mokoena bly in aanhouding en sal na verwagting eerskomende Maandag weer in die hof verskyn. Die hofsaak is uitgestel vir verdere ondersoek. – Christal-Lize Muller