‘n Sakeman en boer van dié Vrystaatse distrik, Koos Kleynhans, sê hy moes noodgedwonge ‘n kragopwekker by sy vulstasie in die dorp inspan. Die kragopwekker is duur op brandstof en hy sou meer geld moes opdok as hy nie reeds ‘n kragopwekker gehad het wat hy van sy plaas na sy vulstasie gevat het nie. Onderhandelinge tussen Eskom en die munisipalitiet is steeds aan die gang rakende die terugbetaling van die skuld, en intussen moet inwoners daagliks met kragonderbrekings van 06:00 tot 09:00 soggens en van 17:00 tot 20:30 saans boet. Dié onderbrekings is sedert 21 Februarie vanjaar deur Eskom ingestel nadat dié munisipaliteit nie ‘n vorige betalingsooreenkoms nagekom het nie.
Kleynhans sê inwoners is boos, want die onderbrekeings raak hulle lewens negatief. Daarmee saam lei die distrik se ekonomie ook daaronder.
Winkeleienaars van kleiner winkels in Hertzogville kan nie almal kragopwekkers aankoop nie, so hul besighede lei daaronder.
Landbou in geheel word ook negatief geraak. Volgens Kleynhans gaan plaaswerkers nie hul salarisse kan onttrek by ‘n kitsbank in die dorp nie, veral as 14-uur lange kragonderbrekings daagliks deur Eskom ingestel word. Veiligheid op die dorp en omliggende gebiede word ook geraak omdat selfone se batterye gou pap word en dit kan nie sonder elektrisiteit weer gelaai word nie.
Volgens Eskom kan 14-uur lange kragonderbrekings ingestel word as ‘n terugbetalingsooreenkoms nie teen die einde van die week bereik word nie.
Boshof en Dealesville word ook geraak.
Kleynhans sê hy het gemeenskapsvergaderings op Dealesville en Boshof bygewoon waar die gemoedere by tye hoog geloop het. In Boshof het inwoners van die Seretse-township gedreig om die strate in te vaar en met ‘n protesaksie voort te gaan teen wat hulle as korrupte amptenare van die munisipaliteit beskou.
Inwoners is woedend omdat hulle beweer hulle betaal maandeliks hul elektrisiteitrekening, maar beskuldig amptenare daarvan dat hulle dié geld gebruik vir hul buitensporige hoë salarisse en om duur luukshede soos motors te koop. Hulle voer aan daar is korrupsie met groot bedrae geld in dié munisipaliteit, terwyl daar geen basiese dienslewering nie.
In die meeste van dié dorpe in die Tokologo-munisipaliteit is daar nie voorafbetaalde kragmeters nie, wat inwoners se situasie bemoeilik. Kleynhans sê inwoners meen dit sou idiaal gewees het indien verbruikers elektrisiteit direk by Eskom kon aankoop en die munisipaliteit omseil.
CHRISTAL-LIZE MULLER / OFM-nuus